Nuus 16:00
BULLETIN 14 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen verbind tot volhoubare oplossings vir gemeenskappe wat deur bek-en-klouseer geraak is
# Die Kaapstadse Lughawe het verlede jaar die eerste keer meer as 11-miljoen passassiers hanteer
# En tennis: Wilander glo Federer is die perfekte afrigter vir Alcaraz
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die regering bly simpatiek teenoor boere en gemeenskappe wat geraak is deur die bek-en-klouseer-uitbreking. Hy het ‘n omvattende 10-jaar nasionale strategie uiteengesit om die siekte te bestry, dieregesondheidstelsels te versterk en landelike voortbestaan te ondersteun. Steenhuisen beklemtoon langtermyn-beplanning is noodsaaklik om landbouproduksie te beskerm en vertroue in veemarkte te herstel. Hy voeg by dit sal volhoubare herstel in die sektor verseker:
# Die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, het herhaal sy ontslag in 2020 was onregmatig, nadat hy drie jaar geskors was. Hy het verskyn voor die Parlement se ad hoc-komitee wat politieke inmenging in die regstelsel ondersoek. Phahlane sê die destydse minister van Polisie, Fikile Mbalula, het hom as proefkonyn vir die opsystaan-reël gebruik. Hy sê die saak is nou voor die howe en die Openbare Beskermer se kantoor:
# Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het verlede jaar die eerste keer ooit meer as elf-duisend passasiers hanteer, wat ‘n reuse-mylpaal vir die Moederstad en die Wes-Kaap is. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei en Toerisme, James Vos, sê wanneer passasiers na die stad vlieg, bestee hulle geld in hotelle, restaurante en klein sake-ondernemings, en ondersteun sodoende werksgeleenthede reg oor die stad:
# Tennis: Die voormalige Sweedse topspeler Mats Wilander glo nog ‘n gewese wêreld-nommer-een, Roger Federer, is die ideale persoon om die huidige beste speler in die wêreld af te rig. Die Spanjaard Carlos Alcaraz is sonder ‘n permanente hoofafrigter nadat sy paaie verlede maand onverwags geskei het met dié van sy landgenoot, Juan Carlos Ferrero. Wilander dink Alcaraz moet sy bes probeer om die Switserse meester te betrek, want Federer het ‘n ander soort spel en kan die jonger man help om uitstaande vaardighede te slyp.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-946-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-634-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-64-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse burgerregte-aktivis Claudette Colvin is op 86-jarige ouderdom oorlede. Sy het geskiedenis gemaak met haar inhegtenisneming in 1955 nadat sy geweier het om haar sitplek aan ‘n wit vrou af te staan op ‘n bus in Montgomery, Alabama – maande voor Rosa Parks se soortgelyke optrede. Colvin se dapper standpunt het die Montgomery-busboikot geïnspireer en deel gevorm van die mylpaal wat die einde van afsonderlike afdelings op openbare vervoer bewerkstellig het. Haar familie het bevestig dat sy in ‘n hospitium in Texas oorlede is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….