Nuus 13:00
BULLETIN 14 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe skooljaar begin
# Die Verenigde Nasies sê 2025 was die dodelikste jaar vir burgerlikes in Oekraïne sedert 2022
# En rugby: Suid-Afrikaanse ondersteuners kan nou registreer vir voorkeur-kaartjietoegang vir die All Black toer
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, het die provinsie se leerders terugverwelkom vir die nuwe skooljaar by Tamboerskloof Primary in Kaapstad. Onder hulle is meer as 73-duisend Graad R’s, 102-duisend Graad 1’s en 97-duisend Graad 8’s. Maynier sê die Snelskool-bouprogram het 175 klaskamers bygevoeg en nege nuwe skole geopen. Hy sê dit versterk die provinsie se verbintenis tot die uitbreiding van infrastruktuur en maak voorsiening vir die groeiende vraag:
In Gauteng waarsku die Ekurhuleni-metropolisie ouers en voogde om nie foto’s waarop skoolwapens, skoolklere of -terreine sigbaar is op sosiale media te plaas nie. Woordvoerder Thabiso Makgato sê hierdie besonderhede kan ernstige gevaar skep en kinders aan aanlyn oortreders blootstel. Sy sê kinderhandel bly ‘n groeiende probleem in Suid-Afrika en sosiale media is ʼn belangrike manier waarop mensehandelaars kinders lok:
Nuus uit die buiteland:
# Volgens die jongste verslag van die Verenigde Nasies se Menseregtemoniteringsending in Oekraïne was verlede jaar die dodelikste jaar vir burgerlikes in die land sedert 2022. Minstens twee-duisend-514 burgerlikes is verlede jaar in konflikverwante geweld dood, wat ‘n toename van 31-persent is in vergelyking met 2024, toe tweeduisend-en-88 mense dood is. Die hoof van die sending, Danielle Bell, sê hierdie styging is nie net deur verskerpte frontlinie-vyandelikhede nie, maar ook deur die uitgebreide gebruik van langafstandwapens.
# Rugby: Suid-Afrikaanse ondersteuners kan nou registreer vir voorkeur-kaartjietoegang tot die All Blacks se toer van agt wedstryde tussen Augustus en September vanjaar. Voorverkope open om 10-uur die oggend die 29ste van die maand, met algemene verkope wat op 2 Februarie begin. Die toer begin op 7 Augustus teen die Stormers in Kaapstad, gevolg deur wedstryde teen die Haaie in Durban en die Bulle in Pretoria voor die eerste toets op Ellispark in Johannesburg die 22ste.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-121-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-636-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: Die Finse avonturier Jari Saario sal na verwagting Vrydag in Kaapstad aankom nadat sy poging om alleen vanaf Kaap Hoorn in Chili na die Moederstad te roei, kortgeknip is toe sy boot omgeslaan en erg beskadig is tydens ‘n hewige storm in die Suid-Atlantiese Oseaan. Die bemanning van die Griekse handelskip Cymona Eagle het tot sy redding gekom. Die Suid-Afrikaanse Maritieme Reddingskoördineringsentrum is oor die situasie ingelig en het die vaartuig gekontak. Die roete is herlei om Saario te gaan red.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….