Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Suid-Afrikaanse ondersteuners kan nou registreer vir voorkeur-kaartjietoegang tot die All Blacks se toer van agt wedstryde tussen Augustus en September vanjaar. Voorverkope open om 10-uur die oggend die 29ste van die maand, met algemene verkope wat op 2 Februarie begin. Die toer begin op 7 Augustus teen die Stormers in Kaapstad, gevolg deur wedstryde teen die Haaie in Durban en die Bulle in Pretoria voor die eerste toets op Ellispark in Johannesburg die 22ste.
# Gholf: Suid-Afrika se LIV-gholfspan se nuwe naam is die Southern Guards. Die verandering kom slegs maande voor die Saoedi-ondersteunde liga die eerste keer in Afrika afslaan. Die span wat voorheen as die Stinger Golf Club bekend was, moes weens handelsmerk-kwessies ‘n nuwe naam kry. Die span, onder aanvoering van Louis Oosthuizen en met lede soos Charl Schwartzel, Branden Grace en Dean Burmester, se nuwe kenteken is ʼn renoster. Die Southern Guards sê die hart van die span se identiteit is klem op kultuur, eenheid en veerkragtigheid.
# Tennis: Lloyd Harris van Suid-Afrika is in die eerste kwalifiserende ronde van die Australiese Ope in Melbourne uitgeskakel. Die voormalige wêreld-nommer-31 het in skoon stelle teen die 18-jarige Italianer Federico Cina verloor. Die Amerikaner Mackenzie McDonald, wat Rafael Nadal in 2023 se Australiese Ope verslaan het, het Dmitry Popko van Kazakstan geklop. Alexander Blockx van België, die Spanjaard Rafael Jodar en die Australiër Cruz Hewitt is ook deur na die tweede kwalifiserende ronde. Die hooftoernooi begin Sondag.
Die voormalige Sweedse topspeler Mats Wilander glo intussen nog ‘n gewese wêreld-nommer-een, Roger Federer, is die ideale persoon om die beste speler in die wêreld af te rig. Die Spanjaard Carlos Alcaraz is sonder ‘n permanent hoofafrigter nadat sy paaie verlede maand onverwags met dié van sy landgenoot Juan Carlos Ferrero geskei het. Wilander dink Alcaraz moet sy bes probeer om die Switserse meester te betrek, want Federer het ‘n ander soort spel en kan die jonger man help om uitstaande vaardighede te slyp.
# En sokker: Die Afrikabeker-halfeindstryde vind vanaand in Marokko plaas. Senegal speel sewe-uur in Tanger teen die sewemalige kampioen, Egipte, terwyl die gasheer en Nigerië tien-uur kragte meet in Rabat. Die wenners speel in Sondagaand se eindstryd in Rabat, en die verloorders sal mekaar Saterdag in Casablanca pak in die uitspeelstryd om die bronsmedalje. Marokko is ‘n viermalige kampioen, Nigerië het die trofee al drie keer omhoog gehou en Senegal het die toernooi in 2021 gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….