Nuus 11:00
BULLETIN 14 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SADOU is bekommerd oor swak prestasie in belangrike vakke
# Aktiewe brandbestryding duur reeds agt dae voort in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit
# En gholf: Bryson DeChambeau, Jon Rahm en Cam Smith bly aan by LIV Gholf
# Die onderwysersvakbond, SADOU, het kommer uitgespreek oor die dalende prestasie in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Slegs 34-persent van 2025 se matrieks het die suiwer wiskunde-eksamen geskryf terwyl die meeste wiskundige geletterdheid as vak gekies het. Die wiskunde-slaagsyfer het van 69- tot 64-persent gedaal. SADOU se hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, sê hierdie vakke bied beter loopbaangeleenthede:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê aktiewe brandbestryding in Wemmershoek by Franschhoek duur reeds agt dae. Woordvoerder Anesca Roodt sê koeler weer het bestrydingspogings oornag gehelp, maar die brand het op talle plekke weer opgevlam. Sy sê brandlyne is steeds aktief in gevaarlike en onbereikbare gebiede bo Mount Rochelle en die Stettynskloof-dam:
# Die Vryheidsfront Plus in Johannesburg het die metro se plan veroordeel om inwoners met voorafbetaalmeters wat in sonkrag belê het, te dwing om terug te skakel na konvensionele meterlesings en rekeningstelsels. Die party sê indien die ANC-geleide administrasie met hierdie plan voortgaan, is dit dalk tyd om die hof te nader. Franco de Lange van die VF Plus sê dit kom neer op verbruiker-sabotasie:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 12 mense is dood nadat ‘n hyskraan vanoggend in noordoos-Thailand op ‘n bewegende trein geval het, waarna dit ontspoor en aan die brand geslaan het. Die polisie sê die dodetal sal na verwagting aanhou styg, met minstens 40 mense wat beseer is. Reddingswerkers gaan voort met hul soektog deur die beskadigde en ontspoorde waens. Die trein was onderweg deur die Sikhio-distrik, 230-kilometer noordoos van Bangkok. Die hyskraan is gebruik in ‘n bouprojek om ‘n verhewe snelweg deur die streek te bou.
# Gholf: Die Amerikaner Bryson DeChambeau, Jon Rahm van Spanje en die Australiër Cam Smith gaan vanjaar by LIV Gholf aanbly. Dit volg ná Brooks Koepka se aankondiging dat hy die Saoedi-ondersteunde kompetisie na vier seisoene verlaat en na die PGA-toer terugkeer. Smith, wat die Ope in 2022 gewen het, sê hy gaan nog jare by LIV aanbly:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-936-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-634-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….