Nuus 08:00
BULLETIN 14 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie verwelkom Suid-Afrika se verwydering van die EU-hoërisikolys
# Die DA wil hê minister Buthelezi moet rekenskap gee oor die leefstyloudits van staatsamptenare
# En Donald Trump sê vir Iranse betogers: “Hulp is op pad.”
# Die Nasionale Tesourie verwelkom Suid-Afrika en vyf ander Afrikalande se verwydering van die Europese Unie se lys hoërisiko-derdewêreldlande. Dit volg nadat die land van die Finansiële Aksietaakspan se gryslys verwyder is. Die taakspan is ‘n organisasie wat fokus op die voorkoming van geldwassery en bekamping van finansiering aan terrorisme. Die Tesourie sê al is Suid-Afrika van die twee lyste verwyder, moet baie werk gedoen word om tekortkominge in die voorkoming, identifikasie, ondersoek en vervolging van geldwassery en finansiering aan terrorisme aan te spreek.
# Die DA sê die minister van Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi, moet aan die Parlement rekenskap gee oor voortgesette leefstyloudits vir staatsamptenare omdat daar tot dusver nie een verwysing vir vervolging ingedien is nie. Byna nege-duisend senior staatsamptenare het leefstyloudits ondergaan, met 117 teen wie interne ondersoeke gedoen word en 24 wat die Presidensie gemerk het vir vermeende onverklaarde inkomste of versteekte bates. Eleanore Bouw-Spies van die DA sê belastingbetalers kan nie korrupsie-opsporingsprosesse befonds nie:
# RISE Mzansi het sy steun uitgespreek vir die Wysigingswetsontwerp op Belastingadministrasiewette en die Wysigingswetontwerp op Belastingwette en noem dit noodsaaklik vir ‘n billiker, meer doeltreffende belastingstelsel. Die hervormings sentreer om die BTW-moderniseringsprojek, wat gemik is op intydse verslagdoening, bedrogvermindering en beter dienslewering. Makashule Gana van RISE Mzansi sê die wetsontwerpe verskerp doeaneregte op lae-waarde invoere en stel die Nasionale Aanlyn Dobbelbelasting bekend. Hy het beklemtoon dit verseker inkomstebeskerming terwyl dit maatskaplike nadele aanspreek, onderwys ondersteun en openbare vertroue in die belastingstelsel versterk.
# President Donald Trump het betogers in Iran aangemoedig om aan te hou betoog en belowe dat hulp op pad is. Volgens die Amerikaans-gebaseerde Human Rights Activists News Agency is twee-duisend-403 betogers in Iran dood sedert betogings teen die regering in Desember begin het. Dit sluit 12 betogers jonger as 18 in. Trump waarsku Iran ook om nie betogers tereg te stel nie. Dit volg na berigte dat ʼn 26-jarige Iranse betoger tereggestel gaan word:
# Krieket: Die Paarl Royals het op Bolandpark in die Paarl ʼn rekord-oorwinning van ses paaltjies oor die Durban Super Giants behaal en is nou tweede op die SA20-punteleer. Die Super Giants het 186 vir vyf in hul 20 boulbeurte aangeteken met Aiden Markram wat 66 bygedra het. In antwoord daarop het Rubin Hermann ʼn onoorwonne 65 aangeteken en in vennootskap met Dan Lawrence 106 lopies op die derde paaltjie behaal om die Royals se hoogste suksesvolle lopie-uitdaging op Bolandpark te voltooi. Die Super Giants bly in die vyfde plek met 14 punte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-362-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-620-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….