Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Capitec is besig om die 500-miljard-rand waardasie te nader en gaan nou ook op sakebankdienste begin fokus. Die handelsbank het die afgelope twee jaar met meer as 200-persent gegroei en staan nou tweede na FirstRand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube geprys vir die vordering wat onder haar leiding gemaak is. BOSA het die DA egter van skynheiligheid beskuldig en sê die party vervul nie sy rol as opposisie nie.
Dan skryf die webblad die voorsitter van die Amerikaanse Senaat se komitee oor Buitelandse Betrekkinge, Jim Risch sê Amerika moet sterker teen Suid-Afrika optree. Hy het verwys na die BRICS-vlootoefening waar onder meer Rusland en Iran betrokke is.
En laastens is daar nuus oor Suid-Afrika wat nou ook van die EU se gryslys verwyder is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf township-skole het nie teruggestaan met prestasie in die matriekuitslae nie en bewys dat leerders in die township ook as presteerders uit die stryd getree het.
En tweedens berig die koerant inwoners van Johannesburg is ontevrede oor City Power se nuwe sonkragtariewe.
# Sowetan:
Berig ‘n Vrystaatse onderwyser het deur toewyding nou reeds vir nege agtereenvolgende jare ‘n honderd-persent slaagsyfer in wetenskap. En die koerant skryf ‘n houdingsverandering onder die onderwysers by ‘n skool in Soweto het in twee jaar die slaagsyfer van 47-persent tot 81,9-persent laat groei.
# En The Citizen:
Skryf inderwaarheid het minder as 60-persent van die leerders wat in graad 1 geregistreer is, vanjaar matriek geslaag. Daar is beroepe dat die regering aandag gee aan die onderwysstelsel en veral aan wiskunde en wetenskap waar Suid-Afrika te kort skiet.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig universiteite sal duisende matrikulante moet wegwys. Daar is nagenoeg 100-duisend skoolverlaters vir wie daar nie plek by universiteite is nie. Volgens kenners het universiteite jaarliks plek vir nagenoeg nege-duisend eerstejaars, maar die instellings het reeds honderdduisende aansoeke ontvang.
En tweedens skryf die koerant 21 vissermanne is gered nadat hul boot sowat een seemyl van Noordhoek in Gqeberha aan die brand geslaan het. Omgewingskenners is nou bekommerd oor die besoedelingsgevaar wat die vaartuig inhou.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig hoe twee skole in Gqeberha daarin kon slaag om topprestasies te behaal.
En tweedens skryf die koerant oor die lief en leed van die matrieks met die bekendmaking van hul uitslae.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Het vandag weer verskeie berigte oor die matriekuitslae en lesers word bekend gestel aan die toppresteerders in Pietermaritzburg.
En tweedens skryf die koerant die sekuriteit by die Tala-wildreservaat is opgeskerp na die aanval op twee jong vrouens.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig talle ontevrede verkiesingsbeamptes het hulle nou tot die kantoor van die ombud gewend om in te gryp met hul vergoeding.
En tweedens berig die koerant die 2025 matriekuitslae van die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat, Gewone Vlak en Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat, Gevorderde Aanvullende Vlak toon aansienlike verskuiwings in prestasies volgens streke en skole in vergelyking met 2024