Nuus 07:00
BULLETIN 14 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Suid-Afrika moet aan AGOA onttrek
# Suid-Afrikaanse suikerrietkwekers waarsku die suikerbedryf is in gevaar
# En Rusland veroordeel Amerikaanse dreigemente van militêre ingryping in Iran
# Die EFF sê die verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika is ‘n voorbeeld van Amerika se bevordering van sy eie geopolitieke en ekonomiese belange en nie dié van Afrikane nie. Die Huis van Verteenwoordigers het gestem dat die tweeparty-handelsprogram voortgaan, en dit gaan nou na die Senaat vir goedkeuring. Suid-Afrika se deelname aan ʼn nuwe AGOA is egter weens die gespanne verhouding met Amerika, nie gewaarborg nie. Die EFF sê Suid-Afrika moet aan die program onttrek eerder as om Amerika se politieke belange te dien.
# Cosatu verwelkom die Nasionale Vergadering se goedkeuring van die Spesiale Begrotingswetsontwerp, wat ‘n bykomende 754-miljoen-rand aan die Departement van Gesondheid verskaf. Dit volg na ‘n tekort wat veroorsaak is deur die inperking van Amerikaanse befondsing. Die vakverbond doen ‘n beroep op die regering om voldoende hulpbronne in die 2026/2027-begroting te verseker ten einde openbare gesondheidsorg te versterk en die uitrol van Nasionale Gesondheidsversekering te versnel. Matthew Parks van Cosatu sê die toekenning is steeds onvoldoende en daar is steeds ‘n tekort van een-miljard-rand:
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers doen ‘n beroep op die regering om suikerbelasting te skrap om die plaaslike suikerbedryf te beskerm. Hulle waarsku dat ‘n toename in ingevoerde suiker swaar gesubsidieerde plaaslike produksie benadeel en meer as ‘n miljoen werksgeleenthede in KwaZulu-Natal en Mpumalanga in gevaar stel. Die voorsitter van die organisasie, Higgins Mdluli, sê die belasting het produsente en vervaardigers benadeel sonder om gesondheidsuitkomste te verbeter, en dring daarop aan dat die regering dringend moet optree om werksgeleenthede, landelike ekonomieë en die land se suikervoorraad te beskerm.
# Die Vereniging van Staatsamptenare het simpatie uitgespreek teenoor die inwoners van die Wes-Kaap wat geraak word deur die onlangse veldbrande. Die vakbond erken die verlies aan eiendom en lewensbestaan, en prys die toewyding van brandbestryders, noodspanne en vrywilligers wat werk om lewens te beskerm. Koos Kruger van die vakbond doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulppogings te ondersteun en mense in nood te help. Hy beklemtoon hoe belangrik eenheid en deernis in hierdie moeilike tyd is:
# Rusland veroordeel Amerika se dreigemente oor militêre aanvalle in Iran en waarsku teen buitelandse inmenging in Iran se politiek. President Donald Trump van Amerika het onlangs die moontlikheid van militêre ingryping in die land geopper waar minstens een-duisend-850 betogers in versetoptrede teen die regering dood is. Die Russiese ministerie van Buitelandse Sake sê diegene wat onrus van buite aanmoedig as dekmantel vir aggressie, moet kennis neem van die rampspoedige gevolge van sulke optrede in die Midde-Ooste en internasionale sekerheid.
# Gholf: Suid-Afrika se LIV-gholfspan se nuwe naam is die Southern Guards. Die verandering kom slegs maande voor die Saoedi-ondersteunde liga vir die eerste keer in Afrika afslaan. Die span wat voorheen as die Stinger Golf Club bekend was, moes weens handelsmerk-kwessies ʼn nuwe naam kry. Die span, onder aanvoering van Louis Oosthuizen en met lede soos Charl Schwartzel, Branden Grace en Dean Burmester, se nuwe kenteken is ʼn renoster. Die Southern Guards sê die hart van die span se identiteit is klem op kultuur, eenheid en veerkragtigheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-104-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-614-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….