Nuus 06:00
BULLETIN 14 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê lande moet klimaatoptrede as ‘n dryfveer vir ekonomiese groei beskou
# Solidariteit eis dat die regering die VSA-geskil bylê
# En tennis: Lloyd Harris word in die eerste kwalifiserende ronde van die Australiese Ope uitgeskakel
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n land se klimaataksie-doelwitte en ekonomiese ambisies kan saamwerk vir groter voorspoed. Hy was aan die woord tydens die Abu Dhabi Volhoubaarheidsweek wat onder die tema “Nexus of Next: All Systems Go” gehou is. Ramaphosa sê lande wat klimaataksie-strategieë aangepak het, het gevind dat daardie ingryping uiteindelik ekonomiese groei oplewer. Hy het die behoefte aan optrede om klimaatsveranderingsuitdagings in Afrika aan te spreek, herhaal:
# Die vakbond Solidariteit het die besluit van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers verwelkom om die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika te verleng. Hulle het die regering versoek om sy diplomatieke geskil met die VSA op te los. Die vakbond sê Suid-Afrika se moontlike uitsluiting van AGOA bedreig derduisende werksgeleenthede in die motor-, landbou- en vervaardigingsektore. Jaco Kleynhans van Solidariteit vra dringende optrede om voortgesette toegang tot die VSA-mark te verseker en lewensbestaan te beskerm:
Die oorgrensbetalingsverskaffer, Verto, het intussen ook die Huis van Verteenwoordigers se besluit verwelkom. Die maatskappy sê die stap is positief vir Suid-Afrikaanse uitvoerders, maar waarsku dat onsekerheid oor tydlyne en geskiktheid steeds geldeenheidbestendigheid en die groei van klein ondernemings in gevaar stel. James Booth van Verto dring daarop aan dat sakeondernemings voorberei vir handels- en politieke skokke deur te uit te brei en veilige betalingstelsels te gebruik.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sal die terug-skooltoe-program vir 2026 amptelik in Brits, in Noordwes, bekend stel. Die LUR vir Onderwys in die provinsie, Viola Motsumi, sal Gwarube na die Tshenolo Laerskool vergesel om leerders te verwelkom, met ‘n spesiale fokus op graad R- en graad een-leerders wat vandag vir die eerste keer skool toe gaan. ’n Woordvoerder van die Ministerie, Terence Khala sê die minister sal ook die skool se voedingsprogram ondersoek:
# Nagenoeg een-duisend bykomende Amerikaanse doeane- en grensbeskermingsagente sal na verwagting in Minneapolis ontplooi word. Dit vind plaas terwyl spanning tussen federale en plaaslike wetstoepassers opgevlam het nadat die ma van drie, Renee Nicole Good, verlede week doodgeskiet is, wat landwyd protesoptogte ontketen het. Die Demokraties-geleide Minnesota, Minneapolis en St. Paul dagvaar nou die Trump-administrasie en voer aan dat die wydverspreide immigrasie-operasie ‘n federale inval in die twee stede is. President Donald Trump het immigrasiewetstoepassing vir die eerste keer in Desember in die Minneapolis-gebied verskerp om ongedokumenteerde Somaliese immigrante te teiken.
# Tennis: Lloyd Harris van Suid-Afrika is in die eerste kwalifiserende ronde van die Australiese Ope in Melbourne uitgeskakel. Die voormalige wêreldnommer 31 is met 6-4, 6-7, 6-3 deur die18-jarige Italianer Federico Cina geklop. Die Amerikaner, Mackenzie McDonald, wat Rafael Nadal by die 2023 Australiese Ope verslaan het, het Dmitry Popko van Kazakstan geklop. Alexander Blockx, van België, die Spanjaard, Rafael Jodar en Australiër Cruz Hewitt is ook deur na die tweede kwalifiserende ronde. Die hooftrekking begin Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-795-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-591-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….