Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met motorsport: Toyota het ‘n Suid-Afrikaner in die eerste en die tweede plek gelewer in die agtste skof van die Dakar-tydren toe Saood Variawa gewen het met Henk Lategan tweede. Variawa was net drie sekondes vinniger as sy landgenoot en het die agterstand van 45 sekondes ingehaal op die laaste beheerpunt voor die wenstreep. Mattias Ekström van Swede was derde in sy Ford, 29 sekondes agter Variawa. Dit was Variawa se tweede skofoorwinning in sy kort Dakar-loopbaan, na sy deurbraak-oorwinning verlede jaar.
# Krieket: Pretoria Capitals het die verdedigende kampioen, MI Cape Town, met 53 lopies verslaan in hul SA20-kagmeting in Centurion. Sherfane Rutherford het 53 van 27 balle gemoker om sy eerste vyftigtal in die kompetisie te behaal. Die tuisspan het 185 vir ses aangeteken. Die besoekers is daarna tot 132 vir sewe beperk, ondanks Reeza Hendricks se onoorwonne 68. Gideon Peters het drie paaltjies platgetrek. Pretoria Capitals het met die bonuspunt-oorwinning opgeskuif na eerste plek op die punteleer, terwyl MI Cape Town steeds laaste is.
# Rugby: Die Stormers se vernederende nederlaag van 61-10 Sondag teen Harlequins in Londen het nie die span se kanse gedemp om in die Kampioenebeker te vorder nie. Hulle het steeds ‘n baie goeie kans om vir die ronde van 16 te kwalifiseer, en ‘n oorwinning oor Leicester in Kaapstad hierdie komende naweek kan hulle selfs tuisvoordeel in die uitspeelrondes gee. Die Stormers se afrigter, John Dobson sê hy het wel met ‘n swakker span na Londen gegaan weens die kort tyd tussen die twee wedstryde, maar die kragmeting met Leicester is nou nog belangriker.
# Sokker: Real Madrid en sy hoofafrigter, Xabi Alonso, se paaie het na sewe maande geskei. Dit volg na Madrid se nederlaag van 3-2 Sondag teen Barcelona in die Spaanse Superbeker-eindstryd in Saoedi-Arabië. Alonso het voor Kersfees onder skoot gekom nadat sy span slegs twee uit agt wedstryde kon wen. Álvaro Arbeloa, wat sedert Junie die reserwespan se afrigter is, is aangewys as Alonso se plaasvervanger. Madrid is tweede op die LaLiga-ranglys en vier punte agter die voorloper, Barcelona.
# En laastens, Olimpiese Spele: Die Amerikaanse sierskaatser Maxim Naumov sê hy het sy oorlede ouers se teenwoordigheid ervaar toe hy gekwalifiseer het vir volgende maand se Winterspele in Italië. Die voormalige Russiese wêreldkampioene Vadim Naumov en Evgenia Shishkova, wat in die 1990’s na Amerika verhuis het, is ‘n jaar gelede saam met 67 ander mense dood toe ‘n passasiersvliegtuig in Washington met ‘n militêre helikopter gebots het. Hul 24-jarige seun sê van die laaste dinge waaroor hulle gepraat het, was sy droom om na die Spele te gaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….