Nuus 08:00
BULLETIN 13 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê die matriekuitslae weerspieël ‘n positiewe groei in leerderprestasie
# Jacob Zuma herskommel weer die MK-party-leierskap
# En Donald Trump hef 25-persent-tariewe op lande wat sake doen met Iran
# Die regering het die Klas van 2025 gelukgewens met hul slaagsyfer van 88-persent in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen – die hoogste ooit in die geskiedenis. KwaZulu-Natal het die beste gevaar met ‘n syfer van 90,6-persent. Die adjunk-woordvoerder van die regering, William Baloyi, sê die prestasie weerspieël ‘n verbetering in die leerders se vertoning en is ‘n duidelike aanduiding van die harde werk en die veerkragtigheid wat hulle regdeur hul skoolloopbaan getoon het. Hy sê hulle dink egter aan die leerders wat nie geslaag het nie:
# Die DA sê hy verwelkom die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se eerlike en bewysgebaseerde ontleding van dit wat die matriekuitslae oor die onderwysstelsel sê. Die matriekklas van 2025 het ‘n slaagsyfer van 88-persent behaal wat die hoogste in die land se Nasionale Senior Sertifikaat se geskiedenis is. Nazley Sharif van die DA sê leerders wat tussen graad 10 en 12 skool verlaat wek wel kommer, asook prestasieprobleme in vakke soos wiskunde en fisiese wetenskap:
# Die MK-party se leier, Jacob Zuma, het weer aan die party se leierskap verander. Die tesourier-generaal, Mpiyakhe Limba, is uit sy amp verwyder en deur die Zuma-bondgenoot, Brian Molefe, vervang. Colleen Makhubele is onthef van haar pligte as die party se hoofsweep in die Parlement en word voorlopig vervang deur die sweep in die Nasionale Raad van Provinsies, Mmabatho Mokoena-Zondi. Die party sê die veranderinge is om die beweging te versterk en sy politieke mandaat te bevorder.
# President Donald Trump waarsku dat enige land wat met Iran sake doen, tariewe van 25-persent kan verwag in hul handel met Amerika. Dit volg nadat Amerika met militêre ingryping gedreig het om teenregeringsbetogers in Iran te red. China is Iran se grootste handelsvennoot, gevolg deur Irak, die Verenigde Arabiese Emirate, Turkye en Indië. Trump sê in ʼn plasing op Truth Social die tarief sal onmiddellik van krag wees. Hy het nie verduidelik wat “sake met Iran doen” alles insluit nie.
# Krieket: Die Pretoria Capitals het die verdedigende kampioene, MI Cape Town, met 53 lopies verslaan in hul SA20-kagmeting in Centurion. Sherfane Rutherford het 53 van 27 balle gemoker om sy eerste vyftigtal in die kompetisie te behaal. Die tuisspan het 185 vir ses op die telbord geplaas. Die besoekers is daarna tot 132 vir sewe beperk, ten spyte van Reeza Hendricks se onoorwonne 68. Gideon Peters het drie paaltjies platgetrek. Ná hierdie bonuspunt-oorwinning is die Pretoria Capitals eerste op die SA20-punteleer, terwyl MI Cape Town laaste is.
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-176-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-596-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….