Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die rekord-matriekslaagsyfer verbloem ‘n afname in wiskunde-leerders. Die koerant skryf baie minder leerders het wiskunde geneem en minder het geslaag.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube het die matriekuitslae van 2025 bekend gemaak. Altesaam 920-duisend leerders het die eksamen afgelê en 88-persent het geslaag. Die webblad skryf volgens die minister het 345-duisend met universiteitstoelating geslaag.
Dan skryf die koerant die minister van Bosbou, Visserye en Omgewing, Willie Aucamp, het ontken dat hy of sy familie by leeutelery betrokke is. Sy voorganger, Dion George het ‘n klagte hieroor by die Openbare Beskermer ingedien.
En laastens word berig ‘n verswakte dollar het daartoe gelei dat die goudprys gister vir die eerste keer deur die plafon van vier-duisend-600-dollar per fynons gebreek het. Dit het die JSE na ‘n rekord-hoogtepunt gelei.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf terwyl Gwarube ouers en onderwysers geprys het vir hul toewyding om graad 12-leerders dwarsdeur die jaar te ondersteun, het die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, opnuut gevra vir dringende sistemiese hervorming. Die koerant berig die vrystelling van die matriekuitslae het die debat oor die stand van onderwys in die land opnuut onder die soeklig geplaas.
# Sowetan:
Lei met: “BASENBEZILE!” Hulle het geslaag! Die koerant berig hoewel die 88-persent baie goed is, het die uitslae ook baie gebiede uitgewys waar onderwys verbeter kan word.
# En The Citizen:
Skryf die suksesverhale in die matriekuitslae is opgesluit in die leerders wat onder uiters moeilike omstandighede moes voorberei vir die eksamen en steeds geslaag en presteer het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens ook oor die matriekuitslae en die slaagsyfer van 88-persent. Die koerant skryf die hoofmeisie van die York High School in George, Abigail Kok is die nommer een matrikulant van 2025.
En tweedens skryf die koerant die vervaardiging van die televisiereeks Love Island moes weens die brande gestaak word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Het vandag ‘n spesiale matriekuitgawe met stories en foto’s van die uitslae in die Oos-Kaap. Die provinsie se slaagsyfer van 84,17-persent is effens laer as verlede jaar en plaas die provinsie in die negende plek nasionaal.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die matriek-sterre van KwaZulu-Natal skitter blink met die nuus dat die provinsie die beste gevaar het met ‘n slaagsyfer van 90,6-persent.
En tweedens word berig die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het ‘n waarskuwing uitgereik rakende kinderaanvullings wat sinkpikolinaat en selenium bevat.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ondanks streng wetgewing en veiligheidsbeleid, blyk dit dat kinders onder die ouderdom van 18 steeds maklik toegang tot klubs en kroeë kry.
Dan skryf die koerant die minister van Onderwys, Sanet Steenkamp, sê haar ministerie werk aktief daaraan om die oorbevolking in skole in vyf streke te bekamp.
En laastens is daar nuus oor Namib Mills wat gebuk gaan onder arbeidsonrus.