Nuus 07:00
BULLETIN 13 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Basiese Onderwys sê die matriekslaagsyfer is nie 30-persent nie
# Die DA bevind Steenhuisen onskuldig aan die wanbesteding van partyfondse
# En die Weerdiens vra die publiek om versigtig te wees aangesien ‘n laedrukstelsel voortdurende swaar reën bring
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê die 30-persent slaagsyfer wat opposisiepartye voorhou, is verkeerd en ondermyn leerders se ware potensiaal en ambisie. Sy sê die Nasionale Senior Sertifikaat het minimum vereistes in ‘n volledige vak-pakket, wat hoër punte in belangrike vakke vereis. Gwarube beklemtoon leerders moet die regte punte in die regte vakke behaal om in hulle voorkeurprogram op hoëronderwysvlak aanvaar te word:
Intussen skryf KwaZulu-Natal se premier, Thamsanqa Ntuli, die provinsie se uitslag van die matriekeksamen toe aan doeltreffende samewerking tussen onderwysers, vakbonde, leerders, ouers, skole se beheerliggame, die Onderwysdepartement en die uitvoerende raad. Dié provinsie se matriekslaagsyfer van 90,6-persent is die beste in die land. Ntuli se woordvoerder, Lindelani Mbatha, sê die uitslag is ʼn duidelike bewys van die regering van provinsiale eenheid in aksie:
# Die DA se federale uitvoerende gesag het ʼn verslag aanvaar waarin bevind is die partyleier, John Steenhuisen, het nie ʼn partykredietkaart misbruik nie. Die federale uitvoerende voorsitter, Helen Zille, sê alle uitgawes op die kaart is nagegaan en volledig gerekonsilieer. Die uitvoerende gesag het wel ʼn aanbeveling van sy federale regskommissie aanvaar dat ʼn tugondersoek ingestel word om vas te stel of Steenhuisen of Dion George dele van die party se federale grondwet oortree en die party in oneer gebring het.
# Die Verenigde Koninkryk se minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, sê sy het aan haar Iranse ampsgenoot, Abbas Araghchi, gesê sy regering moet die geweld teen betogers staak. Minstens 648 betogers is dood weens die regering se optrede tydens betogings wat reeds drie weke duur. Cooper sê die Iranse regering moet basiese regte en vryhede respekteer en seker maak Britse burgers is veilig. In reaksie daarop het Aragchi gesê hy waarsku die Verenigde Koninkryk om nie by Iran se interne sake in te meng nie.
# Rugby: Die Stormers se vernederende 61-10 nederlaag Sondag teen Harlequins in Londen het nie die span se hoop gedemp om in die Kampioenebeker te vorder nie. Hulle het steeds ‘n baie goeie kans om vir die ronde van 16 te kwalifiseer, en ‘n oorwinning oor Leicester in Kaapstad hierdie komende naweek kan hulle selfs tuisvoordeel in die uitspeelrondes gee. Stormers-afrigter, John Dobson sê hy het wel met ‘n swakker span na Londen gegaan weens die kort tyd tussen tuis- en wegwedstryde, maar die wedstryd teen Leicester is nou baie belangriker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-350-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-595-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ernstige weerwaarskuwings uitgereik vir dele van Limpopo, Mpumalanga en die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal. ‘n Volgehoue laedrukstelsel veroorsaak swaar reën, met oranje vlak ses en vlak nege waarskuwings wat ingestel is, terwyl swaar reën na verwagting oorstromings, padsluitings en skade aan eiendom sal veroorsaak. ‘n Voorspeller, Amukelani Mkhari, sê die stelsel sal lei tot aanhoudende swaar reën oor die volgende twee dae:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….