Nuus 17:00
BULLETIN 12 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum beloof om eiendomsregte te verdedig te midde van Mbalula se onteieningsplanne
# Soil of Africa eis die onmiddellike plasing van alle die leerders in Gauteng
# En, Nelson Mandelabaai se onderburgemeester vra vir waaksaamheid terwyl die brandgevaar afneem
# AfriForum het beloof om privaat eiendomsregte te verdedig ná die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, beloof het om grondonteiening sonder vergoeding te bevorder. Mbalula het tydens die ANC se 114de bestaansherdenking in Mogwase, Noordwes, die voorneme bevestig om die Reserwebank te nasionaliseer. Ernst van Zyl van AfriForum sê die organisasie sal in Maart die Onteieningswet in die Wes-Kaapse Hooggeregshof betwis en veldtogte voortsit wat die grondwetlike belangrikheid van eiendomsregte beklemtoon:
# Die burgerlike beweging Soil of Africa eis die onmiddellike plasing van alle leerders in Gauteng en deursigtigheid met infrastruktuurplanne in die provinsie. Meer as ’n duisend leerders in die provinsie is nog nie ingevolge die 2026-innameproses in graad 1 en 8 geplaas nie. Die voorsitter van Soil of Africa, Bongani Ramontja, sê hy gaan ‘n oorsigbesoek aan die kantore van Ekurhuleni-noord se onderwysdistrik bring om die situasie te beoordeel:
# Nelson Mandelabaai se onderburgemeester, Gary van Niekerk, het inwoners versoek om waaksaam te bly na die onlangse verwoestende veldbrande. Hy het teenoor SABC News gewaarsku kooltjies kan nuwe brande laat uitbreek te midde van hoë temperature, sterk wind en droë toestande. Skade aan privaat eiendom was minimaal, maar munisipale infrastruktuur is geraak en het watervoorsiening ontwrig. Van Niekerk vra inwoners om waaksaam te bly terwyl hulle wag vir reën:
# Tennis: Die Kanadees Milos Raonic het sy uittrede aangekondig ná ‘n loopbaan van 15-jaar wat ontwrig is weens beserings. Die 35-jarige het in November 2016 die wêreld-nommer-drie-posisie bereik, maar verskeie langtermyn beserings het veroorsaak dat hy nie op sy belowende begin kon voortbou nie. Raonic, wat die bynaam Missile gekry het oor sy sterk afslane, het agt ATP-toertitels en byna 330-miljoen-rand in prysgeld ingepalm. Hy sê hy is baie gelukkig omdat hy sy drome kon verwesenlik, want tennis was die grootste deel van sy lewe sy liefde en obsessie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-609-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-592-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-99-sent per vat.
# En laastens, ‘n wyfie-sjimpansee in Japan, bekend vir haar kognitiewe vaardighede is op 49 dood. Die Kyoto Universiteit se Sentrum vir die Evolusionêre Oorsprong van Menslike Gedrag sê Ai is weens ouderdom en orgaanversaking dood. Sy is in Wes-Afrika gebore en het in 1977 in Japan aangekom, waar sy die naamgenoot van die Ai-navorsingsprogram oor die verstand van sjimpansees geword het. Ai kon met syfers werk, kleure identifiseer en het dit geniet om te teken en te skilder. ‘n Serp wat gemaak is van een van haar skilderye is in 2017 aan wyle primatoloog Jane Goodall geskenk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….