Nuus 11:00
BULLETIN 12 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onafhanklike Eksamenraad behaal ‘n slaagsyfer van 98,31-persent in die matriek-eksamen
# Die DA veroordeel minister Lamola oor die sy steun aan die krysoefeninge met Rusland, China en Iran
# En tennis: Daniil Medvedev glo dit gaan moeilik wees om hom op die Australiese Ope te klop
# Die Onafhanklike Eksamenraad het ‘n slaagsyfer van 98,31-persent in die 2025 matriek-eksamen behaal. Dit is effens laer as die 98,47-persent van 2024. Die klas van 2025 spog met ʼn matrikulasievrystellings-koers van 89,12-persent. Altesaam 17-duisend-413 IEB-matrieks het die eksamen afgelê en 161 het onderskeidings in al sewe hul vakke behaal. Die eksamenraad se uitvoerende hoof, Confidence Dikgole, sê in die omvang van volgehoue groei en veranderende leeromgewings is die bestendigheid van hierdie uitslae bemoedigend.
# Die DA striem die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, na sy verdediging van Iranse en Russiese vlootvaartuie in Suid-Afrika tydens BRICS se Will for Peace-oefening. Die vlootoefening saam met China, Rusland en Iran het die naweek aan die kus by Kaapstad begin. Ryan Smith van die DA sê Lamola plaas die land in ernstige diplomatieke en ekonomiese gevaar deur die departement toe te laat om met die militêre oefening voort te gaan:
# Die GOOD-party sê die Stad Kaapstad se onlangse waarskuwings oor lae damvlakke dien as ‘n duidelike herinnering aan die stad se geskiedenis van finansiële wanbestuur en mislukte infrastruktuurprojekte onder DA-bewind. Roscoe Palm van GOOD sê terwyl inwoners weereens aangespoor word om water te bespaar, ontduik die stad steeds aanspreeklikheid vir sy swak beplanning en twyfelagtige finansiële besluite:
# Tennis: Die driemalige naaswenner van die Australiese Ope, Daniil Medvedev, sê hy glo met sy huidige spelpeil sal dit moeilik wees om hom vanjaar op Melbourne Park te klop. Die Rus het die Amerikaner Brandon Nakashima gister verslaan op die Brisbane-internasionaal om sy 22ste toer-titel te buit. Medvedev erken egter hy is die buiteperd in Melbourne, met Jannik Sinner en Carlos Alcaraz die oorweldigende gunstelinge:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-810-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-581-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-6-sent per vat.
# En ter afsuiting: Die flieks One Battle After Another en Adolescence het die 83ste jaarlikse Golden Globe-toekennings oorheers. One Battle After Another is as beste rolprent, komedie of musiekfliek aangewys. Teyana Taylor het die toekenning ontvang vir beste ondersteunende aktrise. Die Netflix-treffer Adolescence het ook vier toekennings ingepalm, insluitend beste ondersteunende akteur vir Owen Cooper. Timothée Chalamet het die toekenning ontvang vir beste akteur in ‘n musiekprent vir Marty Supreme. In die TV-afdeling is The Pitt aangewys as beste dramareeks.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….