Nuus 09:00
BULLETIN 12 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA veroordeel minister Lamola oor sy steun vir die BRICS-krygsoefening
# SAFTU eis massiewe openbare belegging in infrastruktuur
# En rugby: Ulster behaal ‘n bonuspuntoorwinning teen die Cheetahs
# Die DA striem die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, na sy verdediging van Iranse en Russiese vlootvaartuie in Suid-Afrika tydens die BRICS Will for Peace-oefening. Die vlootoefening saam met China, Rusland en Iran het Sondag aan die kus by Kaapstad begin. Ryan Smith van die DA sê Lamola plaas die land in ernstige diplomatieke en ekonomiese gevaar deur DIRCO toe te laat om met die militêre oefening voort te gaan:
# Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde dring aan op massiewe openbare beleggings in infrastruktuur, energie, logistiek en kommunikasie om industriële mededingendheid te herstel en volhoubare werksgeleenthede te skep. Suid-Afrika se jongste arbeidsmarkbevindinge toon dat die werkloosheidsyfer in die derde kwartaal van 2025 tot 31,9-persent gedaal het. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, eis ook ‘n einde aan besparingsmaatreëls en die aanvaarding van uitbreidende, werkergerigte fiskale beleide wat indiensneming en industriële vernuwing prioritiseer:
# Skole heropen Woensdag en Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, waarsku skoolvervoeroperateurs dat onpadwaardige voertuie en dié wat nie geldige bedryfspermitte het nie, sonder versuim geskut sal word. Die LUR se woordvoerder, Lesiba Mpya, sê leerders wat skool toe en terug reis se veiligheid is ononderhandelbaar en die regering sal nie operateurs duld wat kinders se lewens in gevaar stel nie:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het sy skok uitgespreek oor die beweerde oormatige gebruik van geweld deur Iranse owerhede teen betogers. Minstens 420 betogers is dood en meer as drieduisend-200 mense is in hegtenis geneem in teen-regeringsbetogings. Guterres sê alle Iraniërs moet hul griewe vreedsaam en sonder vrees kan uitspreek. Hy het ook stappe gevra om toegang tot inligting moontlik te maak, nadat die regering Donderdag internet-verbindings afgeskakel het.
# Rugby: Die Europese Professionele Klubrugby het Ulster ‘n bonuspunt-oorwinning van 28-0 teen die Cheetahs toegestaan nadat hulle derde-ronde-kragmeting in die Uitdaagbeker gister afgestel is. Die wedstryd sou oorspronklik op die NRCA-stadion in Amsterdam plaasvind, maar gure winterweer het organiseerders gedwing om ʼn ander plek te soek. Die wedstryd is na Duke Rugby-klub verskuif, maar die veld was nie geskik nie. Die Europese Professionele Klubrugby sê as die gashere was dit die Cheetahs se verantwoordelikheid om seker te maak die wedstryd vind plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-903-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-568-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….