Nuus 11:00
BULLETIN 11 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê grondhervorming bly een van dringendste take van die nasionale demokratiese rewolusie
# Minister Khumbudzo Ntshavheni veroordeel pogings om haar beeld te skaad
# En, verskeie brande woed in die Wes-Kaap
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê grondhervorming in Suid-Afrika bly een van die dringendste take van die nasionale demokratiese rewolusie. Ramaphosa het die 8 Januarie-verklaring gelewer tydens die ANC se 114de viering in Moruleng in Noordwes. Hy sê sleuteltake sluit in sterker steun vir die begunstigdes van grondhervorming, vinniger verwerking van uitstaande grondherstel-eise en meer doeltreffende beslegting van geskille:
# Die Minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het pogings veroordeel om haar beeld te beswadder. Die waarnemende regeringswoordvoerder Nomonde Mnukwa sê die manipulering van die minister se X-rekening met vulgêre foto’s en waninligting is nie net swak smaak nie, maar ook skandalig. Sy sê dis betreurenswaardig dat seksuele foto’s gebruik word vir die beswaddering van vroue in ‘n land wat worstel met ‘n plaag van geslagsgeweld:
# Die Brandweerdiens van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap het ‘n moeilike nag agter die rug, met die brand in Wemmershoek, Franschhoek, wat steeds buite beheer woed. Munisipale woordvoerder, Anesca Roodt, sê die brand het gedurende die nag teen die berg af oor ‘n groot gebied versprei en omliggende plase langs die Wemmershoekpad bedreig. Die brand het ongelukkig infrastruktuur beskadig:
Intussen moes die Kaap die Goeie Hoop DBV verskeie diere red na ernstige brande in die Du Noon-informele nedersetting en groot dele van die Overstrand-streek. Woordvoerder Belinda Abraham sê gesinne moes vlug met net die klere wat hulle gedra het, en staan nou voor moeilike besluite oor hul troeteldiere. Sy sê hulle kon 15 diere inneem:
# En die Overstrand Munisipaliteit in die Wes-Kaap sê die Stanford-brand bly ‘n uitdaging, met brandbestrydingspogings wat nou fokus op ontoeganklike ou plantegroei waar die brand steeds aktief woed. Overstrand munisipale bestuurder Dean O’Neill sê alle paaie is oop, insluitend die R43 tussen Stanford, Gansbaai en Pearly Beach. Spanne wat die Pearly Beach-brand bestry, het oornag goeie vordering gemaak langs die grens van Groeneweide en Panorama. Die aktiewe brandlyn aan die linkerflank is onder bedwang gebring, en opruimingsoperasies duur voort.
# Ten slotte krieket: MI Cape Town het gister ‘n belangrike oorwinning van 36 lopies oor die Joburg Super Kings behaal in hul SA20-wedstryd op die Wanderers. Ryan Rickelton het met sy kolfwerk uitgeblink en ‘n oorwinning verseker met 113 lopies van slegs 60 balle en daarmee die span se kanse vir ‘n uitspeel-wedstryd versterk. In ‘n vroeër wedstryd het Pretoria Capitals die Paarl Royals met 21 lopies op Boland Park verslaan, danksy Sherfane Rutherford se 42 nie uit nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….