Nuus 08:00
BULLETIN 11 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê die ANC gaan vanjaar plaaslike regering regruk en basiese dienste verbeter
# Die George-munisipaliteit stel strenger waterbeperkings in met damvlakke wat kritieke vlakke bereik
# En rugby, die Bristol Bears gee die Bulle ‘n deeglike loesing in hul Kampioenebeker-ontmoeting op Loftus
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die party het homself die taak gestel om plaaslike regering reg te ruk en basiese dienste vanjaar te verbeter. Ramaphosa het die 8 Januarie-verklaring gelewer tydens die ANC se 114de viering in Moruleng in Noordwes. Hy het ‘n beroep op alle ANC-munisipaliteite gedoen om inkomste-invorderingsplanne te implementeer om invorderingsyfers te verbeter. Hy sê munisipaliteite moet industriële parke en spesiale ekonomiese sones heraktiveer om beleggings te lok wat plaaslike vervaardiging ondersteun en werksgeleenthede skep:
Ramaphosa het Suid-Afrikaners ook versoek om die Grondwet te vier en dit beskryf as ‘n lewende dokument wat die nasie en sy aspirasies definieer. Hy sê die Grondwet word wêreldwyd erken as een van die bestes en is beide revolusionêr en transformerend. Hy sê dit bevorder eenheid in diversiteit, demokratiese regering, en die bou van ‘n nie-rassige, nie-seksistiese en voorspoedige samelewing:
# Eskom sê die voortdurende verbetering in die energiebeskikbaarheidsfaktor het Eskom se afhanklikheid van duur dieselopwekking aansienlik verminder, wat ‘n sterker fokus op meer koste-effektiewe primêre energiebronne moontlik maak. Die woordvoerder van die kragverskaffer, Aubrey Sambo, sê vir ‘n derde agtereenvolgende week is geen diesel gebruik nie, wat tot nul uitgawes oor die afgelope drie weke gelei het. Hy sê dieselbesteding is nou 2,9-miljard-rand laer as dieselfde tyd verlede jaar:
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap het die instelling van waterbestuursmaatreëls vir Uniondale en Haarlem verleng. Dit volg op ‘n kritiek lae rouwater-beskikbaarheid in beide gebiede as gevolg van voortdurende ondergemiddelde reënval. Die munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê die huidige watervoorsieningsomstandighede vereis onmiddellike ingryping om die beskikbaarheid van drinkbare water te beskerm en die kontinuïteit van noodsaaklike dienste te verseker:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het die uitvoerende hoofde van die wêreld se grootste oliemaatskappye in die Withuis ontmoet om Venezuela te bespreek. Hy wil hê hulle moet 1,65-duisend-miljard-rand in die land belê om produksie uit te brei. Trump sê olie is die prioriteit vir sy strategie vir die land nadat Amerikaanse magte sy leier Nicolas Maduro ‘n week gelede in ‘n oornag-aanval gevange geneem het. Die Trump-administrasie sê hulle moet Venezuela se olieverkope en -inkomste onbepaald beheer om te verseker dat die land in Amerika se belang optree.
# En ten slotte rugby: Die Bristol Bears het ‘n historiese oorwinning van 61-49 oor die Bulle behaal in ‘n hoëtempo Kampioenebeker-ontmoeting op Loftus Versfeld. Die gashere se tien Springbokke kon nie veel hond haaraf maak teen Bristol se vurige aanvalle nie. ‘n Driekuns deur vleuel Noah Heward in die eerste helfte het bygedra tot die besoekers se uiteindelike nege drieë. Die Bulle het teruggeveg met sewe drieë, maar swak verdediging het hulle die wedstryd gekos. Bristol skuif na hierdie oorwinning tot bo-aan Groep 4 met die Bulls in die vierde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….