Nuus 09:00
BULLETIN 10 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Deelnemende skepe kom in Simonstad aan vir die Will for Peace-vlootoefening
# Eskom sê gure weersomstandighede en brande veroorsaak foute landswyd
# En die Nasionale Bloeddiens doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om bloed te skenk
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het die aankoms bevestig van vlootvaartuie wat gaan deelneem aan die Will For Peace 2026-oefening in Simonstad in die Wes-Kaap. Skepe van China, Rusland, Iran en die Verenigde Arabiese Emirate het gister in die land aangekom. Weermagwoordvoerder, Mpho Mathebula sê die multinasionale maritieme oefening, gelei deur China – met Suid-Afrika wat die opleidingsgebied verskaf – verteenwoordig beduidende samewerking op die gebied van internasionale verdediging:
# Eskom sê volgehoue gure weerstoestande, tesame met brande in die Coega-, Humansdorp- en Sarah Baartman-gebiede in die Oos-Kaap, het gelei tot ‘n toename in foute in sy verspreidingsnetwerk. Die woordvoerder, Aubrey Sambo, sê Eskom-spanne gaan voort om kragtoevoer veilig en doeltreffend in die betrokke gebiede te herstel, terwyl die veiligheid van sy personeel en die publiek eerste gestel word in die herstelproses:
# Die Forum for South Africa eis onmiddellike arrestasies en vervolging van onwettige inisiasieskool-operateurs, insluitend tradisionele leiers en amptenare wat willens en wetens onwettige praktyke goedkeur. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het aangekondig dat altesaam 48 lede van inisiasieskole landwyd dood is, met die Oos-Kaap en Vrystaat boaan die lys. Die FOSA-leier, Tebogo Mashilompane, sê die herhalende tragedie weerspieël ernstige mislukkings met die afdwinging van voorkomende ingryping:
# Die Iranse regering het internettoegang in die land na die jongste vlaag van betogings geblok. SMS’e en mobiele data is afgeskakel, sellulêre netwerke is erg beperk, en selfs toegang tot die internet via Starlink-satelliete blyk geraak te word. Die Direkteur van Digitale Regte en Sekuriteit by Miaan Group, ‘n aktivistiese NRO wat fokus op Iran, die Midde-Ooste en Noord-Afrika, Amir Rashidi, sê die ontwrigting van alle kommunikasie, veral die Starlink-netwerk, is ingrypend. Wydverspreide teen-regeringsbetogings teister Iran sedert 28 Desember.
# Swem: Die Franse Olimpiese atleet Damien Joly het sy deelname aan volgende maand se Midmar-myl in KwaZulu-Natal bevestig. Hy sê die byeenkoms in die Midmar-dam is ‘n baie bekende swemgeleentheid en hy is bly om genooi te word. Joly beskryf dit as ‘n wonderlike geleentheid om in ‘n ander omgewing deel te neem en ‘n sterk en passievolle swemgemeenskap te geniet. Die Midmar-myl lok elke jaar duisende deelnemers. Vanjaar se byeenkoms vind plaas oor die eerste naweek in Februarie.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om bloed te skenk terwyl die nasionale voorraad ná die feesseisoen onder die optimale vlakke is. Bloedskenkings neem gewoonlik in Januarie af as gevolg van vakansiereise, kantore wat nog toe is en ontwrigte skenkerroetines. Die diens moedig veral skenkers van die O- en B-bloedgroepe aan, maar alle bloedgroepe word benodig om pasiënte in hospitale te help. Skenkers wat kwalifiseer word gevra om hul naaste skenkersentrum of mobiele eenheid te besoek en te help om voorrade te bestendig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….