Nuus 07:00
BULLETIN 10 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saai waarsku bek-en-klouseer is ‘n nasionale krisis
# Die Mededingingskommissie tree op teen eksklusiewe voorsieningsooreenkomste vir skooldrag
# En rugby: ‘n Springbok-belaaide Bulle-span draf vandag teen die Bristol Bears uit op Loftus
# Die Suider-Afrika Agri Inisiatief sê bek-en-klouseer is ‘n nasionale krisis wat die veebedryf bedreig. Die landbounetwerk waarsku dat die Departement van Landbou nie die kapasiteit het om die uitbreking te bestuur nie en dat entstofkoste onregverdig op boere afgeskuif word. Francois Rossouw van Saai vra vir ‘n nasionale rampverklaring. Hy voer aan dat politieke belange opsy geskuif moet word om die bedryf te red voordat verdere skade plaasvind.
Die ministerie van Landbou handhaaf intussen streng bewegingsbeheer vir beeste, skape, bokke en varke in Gauteng en ander hoërisikogebiede om die verspreiding van bek-en-klouseer te beperk. Minister John Steenhuisen sê dit is noodsaaklik om dierebeweging te beheer ten einde die verspreiding van die siekte te voorkom en boere en nasionale voedselsekerheid te beskerm. Steenhuisen voeg by owerhede werk saam met wetstoepassing om veebeweging te monitor, met gefasseerde inentings wat in Maart begin.
# Die Mededingingskommissie sê hulle tree strenger op teen eksklusiewe verskaffingsooreenkomste om skooluniforms en leermateriaal meer bekostigbaar vir ouers te maak. Die kommissie sê sommige skole beperk ouers steeds tot ‘n enkele verskaffer, wat pryse opjaag. Mpho Moate van die kommissie dring daarop aan dat skole en beheerliggame pro-mededingingsriglyne volg, verskeie verskaffers aanstel en langtermyn eksklusiewe kontrakte vermy:
# Laat aansoeke bly steeds ‘n uitdaging vir die plasing van leerders in skole in die Wes-Kaap. Met die 2026-skooljaar wat binnekort begin, is die meeste leerders in Grade R, een en agt geplaas maar die departement werk steeds daaraan om plek te te kry vir laat aansoekers. Bronagh Hammond van die departement het ouers en voogde versoek om met skole en distrikskantore saam te werk om te verseker dat hul kinders so gou as moontlik geplaas kan word:
# Pous Leo het die gebruik van militêre mag veroordeel as ‘n manier om diplomatieke doelwitte te bereik. Hy het in ‘n buitengewoon vurige jaarlikse buitelandse beleidstoespraak gevra dat menseregte in Venezuela beskerm word. Leo het aan sowat 184 ambassadeurs wat by die Vatikaan geakkrediteer is, gesê die swakheid van internasionale organisasies in die aangesig van wêreldwye konflikte is ‘n besondere bron van kommer. Die pous vra wêreldregerings om die wense van die Venezolaanse volk te respekteer. Albei die Amerikaanse en Venezolaanse ambassadeurs het die geleentheid bygewoon.
# En rugby: Die Bulle se hoofafrigter, Johan Ackermann, het sy beste moontlike span gekies vir vandag se Kampioenebeker-ontmoeting teen die Bristol Bears op Loftus. Die Pretoria-span is onder druk na ‘n droewige seisoen, waar hulle hul eerste twee wedstryde in die kompetisie verloor het, terwyl die Bears albei hul wedstryde gewen het. Ruan Nortjé sal die span lei met nege mede-Springbokke in die opdraf span, en Handré Pollard en Embrose Papier as die skakelpaar. Ander Bokke sluit in Jan-Hendrik Wessels, Elrigh Louw, Willie le Roux en die kragman, Wilco Louw. Afskop is om drie-uur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….