Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt vandag is krieket: SA20 se verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, het in Gqeberha ‘n oorweldigende bonuspunt-oorwinning van nege paaltjies behaal oor verlede seisoen se naaswenners, Pretoria Capitals. Ottniel Baartman het die beste prestasie van sy SA20-loopbaan behaal toe hy vier paaltjies vir net 12 lopies platgetrek het, met die Capitals almal uit vir ʼn rekord-lae 52. Jordan Hermann en Tom Abell het daarna ‘n onoorwonne tweede paaltjie-vennootskap van 50 lopies aangeteken met die Sunrisers wat die wenlopies aangeteken het met nog 79 balle oor. Baartman sê hierdie indrukwekkende oorwinning gee die span ʼn groot hupstoot:
# Vervolgens, sokker: Nigerië, Egipte, Kaap Verde en Ekwatoriaal-Guinee is deur na die laaste 16 in die Afrikabekertoernooi. Opa Sangante se eie doel het tot Nigerië se oorwinning van een-nul oor Guinee-Bissau gelei. In die ander Groep A-wedstryd het Ekwatoriaal-Guinee die gasheer, Ivoorkus, vier-nul verpletter en Nigerië het tweede geëindig in die groep. Egipte is naelskraaps deur na ʼn gelykoptelling van twee elk teen die voorloper in Groep B, Kaap Verde. Intussen het Ghana se gelykoptelling van twee elk teen Mosambiek hom ʼn plek onder die laaste 16 gekos.
# Nou nuus oor rugby: Die Franse Top 14-span, Racing 92, het bevestig hy het ʼn ooreenkoms met Engeland en Saracens se losskakel, Owen Farrell, onderteken. Die tweejaar-kontrak is geldig vanaf die einde van die 2023/24-seisoen. Die 32-jarige speler neem tans ‘n blaaskans van toetsrugby weens sy geestesgesondheid. Farrell het 112 keer vir Engeland uitgedraf en sy hele loopbaan vir Saracens gespeel, sedert hy 17 was. Sy besluit om na Frankryk te gaan, beteken hy sal volgens die Rugbyvoetbalunie se huidige regulasies nie vir Engeland kan speel nie.
# Volgende aan die beurt is fietsry: Die organiseerders van die Kaapstadse fietstoer herinner voornemende deelnemers om voor die einde van die maand vir vanjaar se wedren in te skryf. Inskrywings vir die wedren sluit om middernag op 31 Januarie en dit vind op Sondag, 6 Maart plaas. Daar is twee kategorieë − die wedren oor 109-kilometer en een oor 42-kilometer. Die inskrywingsfooi vir die langer wedren is 950-rand, maar gratis vir fietsryers wat reeds 40 wedrenne voltooi het. Vir die korter wedren is inskrywings 445-rand, en 440-rand vir fietsryers 18 jaar en jonger.
# Ons sluit af met tennis: Die Amerikaner Coco Gauff is die eerste keer in haar loopbaan deur na die halfeindronde van die Australiese Ope. Sy het Marta Kostyuk van Oekraïne in drie ure en agt minute met 7-6, 6-7 en 6-2 geklop. Dis die heersende Amerikaanse Ope-kampioen se 12de agtereenvolgende oorwinning in ‘n Grand Slam-toernooi en sy het vanjaar nog nie een wedstryd verloor nie. Gauff sê sy het vandag alles op die baan gelos:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….