Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Accountability Now se direkteur sê kiesers het die geleentheid om aanspreeklikheid te eis
# Die plantegroeibrand tussen Da Gama en Ocean View is onder beheer
# En, tennis: Coco Gauff is deur na haar eerste Australiese Ope-halfeindronde
# Die direkteur van Accountability Now, Paul Hoffman, sê die komende verkiesing is ‘n geleentheid om aanspreeklikheid van die regering te eis en ‘n kans om diegene te vervang wat swak regeer het. Altesaam 350 politieke partye het vir die verkiesing geregistreer. Hoffman sê Suid-Afrikaners sal hul kruisies trek op grond van faktore soos beurtkrag, gebrekkige waterinfrastruktuur, swak gesondheidsdienste, korrupsie, misdaad, ‘n mank regstelsel en swak onderwys. Hy sê alle stemgeregtigdes móét stem omdat hulle ten minste self baat sal vind daarby, indien om geen ander rede nie.
# Brandbestryders van Kaapstad het daarin geslaag om die brand in die plantegroei tussen Da Gama en Ocean View onder beheer te bring. Die brand het gistermiddag uitgebreek en ‘n sterk suidoostewind het dit aangeblaas. Die woordvoerder van die stad se Brand- en Reddingdienste, Jermaine Carelse, sê hoewel hulpbronne verminder is by die terrein, is hulle bedag daarop indien dit sou opvlam:
# Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gaan ‘n rol speel in die openbare verkryging van sewe-duisend-615 megawatt van nuwe elektrisiteitsopwekking en -bergingsvermoë. Hy het tot op hede 12,4-miljard-rand belê in verskeie projekte sedert die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste onafhanklike kragprodusente-veilings in 2011. Die staatsbeheerde instelling sê hy sal nou probeer deelneem aan die drie bodrondes wat verlede maand van stapel gestuur is vir hernubare energie, gas tot krag en battery-berging.
# Tennis: Die Amerikaner Coco Gauff is die eerste keer in haar loopbaan deur na die halfeindronde van die Australiese Ope. Sy het Marta Kostyuk van Oekraïne in drie ure en agt minute met 7-6, 6-7 en 6-2 geklop. Dis die heersende Amerikaanse Ope-kampioen se 12de agtereenvolgende oorwinning in ‘n Grand Slam-toernooi en sy het vanjaar nog nie een wedstryd verloor nie. Gauff sê sy het vandag alles op die baan gelos:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-572-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-18-sent per vat.
# Ten slotte: Die kinderveiligheids-veldtog van die Stad Kaapstad, Identikidz, het met indrukwekkende uitslae afgesluit. Meer as 130-duisend kinders het ʼn naambandjie gekry, die hoogste die afgelope drie jaar. Slegs 302 kinders het verlore geraak, die laagste in drie jaar, wat bewys hoe doeltreffend die projek is. Die Strand was die besigste plek, met 21-duisend-536 kinders wat ʼn naambandjie gekry het, en 67 herenigings. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapveiligheid en Gesondheid, Patricia van der Ross, beveel volgehoue waaksaamheid aan terwyl die somer voortduur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….