Nuus 16:00
BULLETIN 9 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verdedigingsontleder waarsku ‘n vlootoefening stel die SA Vloot se swakhede bloot
# Umalusi keur die vrystelling van die Onafhanklike Eksamenraad se eksamenuitslae goed
# En rugby: Die Cheetahs en die Leeus hoop om hul Uitdaagbeker-seisoen hierdie naweek weer op koers te kry
# ‘n Verdedigingsontleder, Helmut Heitman, sê Suid-Afrika se deelname aan vlootoefeninge met China, Rusland en Iran in Kaapstad beklemtoon ernstige beperkings in die Suid-Afrikaanse Vloot. Hy beskryf die oefening as ‘n basiese deurgangsoefening, nie gevorderde oorlogvoering nie. Heitman het uitgelig slegs een fregat is seewaardig, maar nie gevegs-gereed nie, met verouderde stelsels. Hy voeg by swak onderhoud en ‘n gebrek aan maritieme patrollie-vliegtuie verswak die vermoë, terwyl ‘n gevaar bestaan dat bande met Rusland en Iran verhoudings met belangrike Westerse handelsvennote kan belemmer.
# Die onderwys-gehalteversekeringsraad Umalusi het die Onafhanklike Eksamenraad geprys vir die administrasie van die Algemene Onderwys- en Opleidingsertifikaat, Volwasse Basiese Onderwys en Opleiding en die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Voorsitter Yunus Ballim sê geen groot onreëlmatighede is gevind wat die geloofwaardigheid in twyfel trek nie. Hy sê die raad het die vrystelling van uitslae goedgekeur, maar die eksamenraad aangeraai om kandidate wat van onreëlmatighede verdink word, se uitslae terug te hou:
# Die Overstrand-munisipaliteit in die Wes-Kaap het die inwoners van Die Kop-informele nedersetting in Stanford aangesê om hulle huise onmddellik te ontruim weens die veldbrand wat in die gebied voortwoed. Drie groot brande woed in die Overberg wat Stanford, Pearly Beach en Greyton raak, met nog brande in Mosselbaai en Tsitsikamma in die Suid-Kaap. Die brand by Stanford, wat in digte, ontoeganklike plantegroei woed, is steeds buite beheer. ‘n Helikopter is ontplooi om brandbestrydingspogings te ondersteun.
# Forum for South Africa vra ‘n deursigtige en omvattende verslag oor alle besoedelingsbronne in die Hartenbos-riviermonding in Mosselbaai. Volgens die Departement van Bosbou, Vissery en die Omgewing is massa-vrektes onder visse aangemeld, wat toegeskryf word aan ʼn kombinasie van omgewingsfaktore soos verhoogde nutriënt-vlakke, ʼn kleiner invloei van varswater en skadelike alge. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê hulle verwelkom bevestiging dat die situasie nou onder beheer is:
# Rugby: Die Leeus en die Cheetahs hoop om hul Uitdaagbeker-seisoen om te keer wanneer hulle die naweek teen Europese mededingers te staan kom. Die Suid-Afrikaanse spanne het steeds nie ‘n oorwinning behaal ná die eerste twee rondes van die seisoen nie. Die Leeus pak môremiddag die Franse span Lyon in Johannesburg terwyl die Cheetahs Sondag kragte meet met die Ierse span Ulster in Amsterdam, Nederland. Twyfel bestaan egter oor hierdie ontmoeting weens Storm Goretti wat hierdie naweek sneeu in Europa kan veroorsaak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-280-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-464-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….