Nuus 14:00
BULLETIN 9 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA vra ‘n onafhanklike ondersoek na SANRAL se toekenning van tenders
# Umalusi staak die uitreiking van N3-sertifikate
# En tennis: Sabalenka gaan vanjaar sommige toernooie misloop ter wille van haar gesondheid
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het die minister van Vervoer, Barbara Creecy, versoek om ‘n onafhanklike forensiese ondersoek te begin na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap se tendertoekennings. Dit volg nadat Sanral voorstelle verwerp het dat die bevindings van sy ondersoek na die Masekwaspoort-tendertoekenning van 1,57-miljard-rand ‘n ondersoek regverdig na álle tenders wat aan die Chinese Construction and Engineering Corporation toegeken is. Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê Sanral het ‘n reusebegroting en het te veel kommerwekkende besluite geneem.
# Die Raad vir Gehalteversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding, Umalusi, sal nie nuwe N3-sertifikate uitreik nie. Die uitvoerende hoof, Mafu Rakometsi, het in ‘n toespraak oor die Departement van Basiese Onderwys se matriekuitslae, gesê 2025 was die laaste jaar ná die uitfasering van N1- na N3-programme vanaf Januarie 2024. Kandidaatregistrasies het in Desember 2023 gesluit. Rakometsi verseker die publiek bestaande N3-sertifikate bly geldig:
# Activists and Citizens Forum vra dat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, as nasionale kommissaris aangestel word. Dit volg nadat die provinsie se premier, Thami Ntuli, hom vir ‘n tweede termyn ondersteun het. Mkhwanazi het verlede jaar beweerde wydverspreide korrupsie en politieke inmenging binne die polisie en die strafregstelsel ontbloot. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê Mkhwanazi is ‘n ware etiese leier:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê die Vaaldam en die breër geïntegreerde Vaalrivierstelsel vloei volgens die jongste reservoirstatus steeds sterk en is bestendig. Die positiewe vooruitsig word ondersteun deur die voortgesette reënvalseisoen. Die departement se woordvoerder, Mandla Mathebula, sê die dam bly bo volle vermoë, tans op 103,17-persent, terwyl die stelsel, wat water aan Gauteng en omliggende provinsies verskaf, bestendig bly op 100,8-persent:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, beplan om vanjaar sommige toernooie mis te loop ter wille van haar gesondheid, hoewel sy verwag die WTA-toer gaan haar straf. Die beheerliggaam verwag van spelers om deel te neem aan al vier Grand Slam-toernooie, tien WTA-een-duisend-toernooie en ses WTA-500-toernooie, en straf kan wissel van die verbeuring van ranglyspunte tot boetes. Sabalenka beskryf die seisoen egter as malligheid wat daartoe lei dat te veel spelers beseer word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-373-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-472-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….