Nuus 12:00
BULLETIN 9 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vlootoefeninge met China, Iran en Rusland begin in Kaapstad
# Trump gaan met Venezuela se opposisieleier vergader
# En rugby: Die Kampioenebeker-kompetisie hervat die naweek
# Chinese en Iranse oorlogskepe wat vasgemeer is in die Vlootbasis Simonstad in Kaapstad begin vandag met weeklange oefeninge met Suid-Afrika. Die oefeninge, wat Rusland na verwagting ook sal betrek, vorm deel van die BRICS Plus-samewerking en fokus op maritieme sekerheid en skeepsveiligheid. Die gevaar bestaan dat die oefeninge bande met Amerika kan belemmer, ná kritiek oor Suid-Afrika se betrekkinge met Rusland en sy buitelandse beleidsposisies. Die DA het intussen die regering gekritiseer en eis deursigtigheid oor koste, bevelstrukture en diplomatieke uitwerking.
# Die regering van die Wes-Kaap het 15-miljoen-rand aan lugbrandbestryding bestee terwyl die provinsie ‘n intense brandseisoen beleef. Tot dusver is 38 lugoperasies uitgevoer, en na raming is 90-duisend hektaar en 45-geboue vernietig. Daar is nie enige sterftes aangemeld nie. Watertekorte is ook ‘n bron van kommer in Langeberg, Knysna en Bitou. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, waarsku die warm en droë toestande kan die brandseisoen tot na Maart verleng.
Intussen sê die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit die brand by Langrug in Franschhoek bly buite beheer en ‘n lugopname word beplan om operasies te lei. Woordvoerder Anesca Roodt sê die brand by Stormsvlei duur voort en twee nuwe grondspanne is ontplooi. Sy voeg by die brand by De Wet Kelder naby Worcester is onder beheer, met geen skade of beserings aangemeld nie. Roodt sê aktiewe brandbestryding duur voort:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika beplan om Venezuela se opposisieleier, María Corina Machado, volgende week te ontmoet. Dit volg nadat sy administrasie verlede naweek vir president Nicolás Maduro in hegtenis geneem het. Trump het voorheen gesê hy sal nie met die Nobelprys-wenner saamwerk nie, want sy het nie die nodige ondersteuning nie. Hy sê dit sal ‘n tydjie duur voor die Suid-Amerikaanse land gereed is vir ʼn verkiesing:
# Rugby: Die Kampioenebeker-kompetisie hervat die naweek, met die Bulle, die Haaie en die Stormers wat Suid-Afrika se belange verteenwoordig. Die Bulle speel môremiddag tuis op Loftus teen Bristol Bears en die Haaie en die Stormers speel in Europa. Die Haaie pak Sale Sharks môreaand in Engeland en Sondag kom die Stormers en Harlequins in Londen teen mekaar te staan. Die Stormers is tans boaan Groep 3 en die Bulle en die Haaie vyfde in onderskeidelik Groep 4 en een.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-627-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-473-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….