Nuus 11:00
BULLETIN 9 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê ministers wat versuim om verantwoordelikhede aan hul adjunkte te delegeer sal gestraf word
# Minister Kubayi gaan met die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid vergader om ‘n gladde oorgang te verseker
# En rugby: Die Kampioenebeker-kompetisie hervat die naweek
# President Cyril Ramaphosa waarsku dat kabinetsministers wat versuim om amptelike take aan hul adjunkte te delegeer, gestraf sal word. Hy het na die vorming van die regering van nasionale eenheid 32 ministers en 43 adjunkministers aangestel om die tien koalisievennote tegemoet te kom. Ramaphosa het op ‘n parlementêre vraag van die EFF geantwoord die delegering van verantwoordelikhede is een van die aanwysers in ministers se prestasie-ooreenkomste. Hy sê dit is sy keuse om die gepaste straf vir ministers te bepaal.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sal met die leiers van die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid vergader. Dit volg op die aanstelling van die SOE se hoof, Andy Mothibi, as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Leonard Lekgetho is aangestel as waarnemende hoof van die SOE. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê die minister het volle vertroue in Mothibi en Lekgetho:
# Die Wes-Kaapse regering het 15-miljoen-rand aan lugbrandbestryding bestee terwyl die provinsie ‘n intense brandseisoen beleef. Tot dusver is 38 lugoperasies uitgevoer, en na raming is 90-duisend hektaar en 45 geboue vernietig. Geen sterftes is aangemeld nie. Watertekorte is ook ‘n bron van kommer in Langeberg, Knysna en Bitou. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, waarsku die warm en droë toestande kan die brandseisoen tot na Maart verleng.
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê Amerika se besluit om aan internasionale organisasies te onttrek, is teleurstellend. Byna die helfte van die 66 organisasies het VN-bande. Dit sluit die Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering en die Bevolkingsfonds in wat ma’s en kinders se gesondheid ondersteun, en seksuele en geslagsgeweld bestry. Guterres se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê alle VN-instellings sal voortgaan met hul mandaat:
# Rugby: Die Kampioenebeker-kompetisie hervat die naweek, met die Bulle, die Haaie en die Stormers wat Suid-Afrika se belange verteenwoordig. Die Bulle speel môremiddag tuis op Loftus teen Bristol Bears en die Haaie en die Stormers speel in Europa. Die Haaie pak Sale Sharks môreaand in Engeland en Sondag kom die Stormers en Harlequins in Londen teen mekaar te staan. Die Stormers is tans boaan Groep 3 en die Bulle en die Haaie vyfde in onderskeidelik Groep 4 en een.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-974-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-473-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….