Nuus 09:00
BULLETIN 9 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sal met die bestuur van die NVG en SOE vergader om ‘n gladde oorgang te verseker
# SAFTU sê die regering moet die skuld kry vir die ineenstorting van die vervaardigingsektor
# En meer as 40 is dood en meer as 2 000 in hegtenis geneem in Iran
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sal met die leiers van die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid vergader. Dit volg op die aanstelling van SOE-hoofadvokaat Andy Mothibi as die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Leonard Lekgetho is aangestel as die waarnemende hoof van die SOE. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê die minister het volle vertroue in beide Mothibi en Lekgetho:
# Vakbondfederasie Saftu sê die vervaardigingsektor is in ‘n krisis. Die jongste syfers van Statistiek Suid-Afrika toon ‘n afname van een persent in produksie en verkope vergeleke met November verlede jaar, met groot afleggings by ArcelorMittal, Transalloys, Ford, Coca-Cola en Aspen. Asive Dyani van Saftu sê die afname het werkverliese en loononderdrukking veroorsaak. Dyani doen ‘n beroep op die regering om ‘n staatsgeleide nywerheidstrategie te aanvaar, in infrastruktuur te belê en werkers teen afleggings te beskerm:
# Die Regterlike Dienskommissie het ‘n vervolgingsproses aanbeveel teen die Wes-Kaapse regter, Mushtak Parker. Dit volg nadat die Geregtelike Gedragstribunaal die 71-jarige Parker verlede jaar skuldig bevind het aan growwe wangedrag en oneerlike optrede. Die aanklagte spruit voort uit bewerings deur tien regters in die Wes-Kaapse Hooggeregshof en die Kaapse Balieraad. Een belangrike kwessie is Parker se teenstrydige weergawes van ʼn beweerde rusie in 2019 waarby voormalige regterpresident John Hlophe betrokke was. Die Dienskommissie het die saak na die Parlement verwys sodat die aanklagproses kan begin.
# Ten minste 45 betogers, vyf van hulle kinders en agt sekuriteitspersoneel, is dood, en twee-duisend-270 ander is in hegtenis geneem in teen-regeringsprotesoptogte reg oor Iran. Betogers eis die omverwerping van Iran se opperleier, Ajatollah Ali Khamenei, en die terugkeer van die verbanne kroonprins Reza Pahlavi. Iranse owerhede het internettoegang en telefoonlyne afgesny terwyl die betogings vir 12 agtereenvolgende dae voortduur. Die Amerikaanse president Donald Trump het sy dreigement herhaal om militêr in te gryp as Iranse owerhede betogers doodmaak.
# Sokker: Arsenal het die geleentheid misgeloop om met ʼn voorsprong van agt punte op die Premierliga-punteleer te spog ná sy wedstryd teen Liverpool met nul-elk geëindig het. Die Gunners het ʼn goue geleentheid gehad nadat sy mededingers, Manchester City en Aston Villa, se wedstryde Woensdag ook gelykop geëindig het. Albei spanne het geleentheid gehad om doele aan te teken, maar kon nie. Mikel Arteta van Arsenal sê hy is teleurgesteld met die uitslag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-967-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-464-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….