Nuus 08:00
BULLETIN 9 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF-leier wil hê die MK-party moet regters wat van oortredings beskuldig word bekend maak
# Die president van die ANC-jeugliga kritiseer Gwede Mantashe se kommentaar oor jeugwerkloosheid
# En veldbrande in die Oos-Kaap laat verskeie gebiede sonder elektrisiteit
# Die EFF-leier, Julius Malema waarsku daarteen om die regbank in ’n slegte lig te stel met onbevestigde aantygings van korrupsie. Tydens die Parlement se ad hoc-komitee wat politieke inmenging in die regstelsel ondersoek, het Malema, David Skosana van die MK-party uitgedaag om spesifieke regters te noem indien bewerings bestaan. Die komitee sal bewerings tydens sy volgende vergadering hersien voor die verhore wat volgende week hervat word. Malema sê ongegronde, wydlopende beskuldigings kan die integriteit van die howe ondermyn:
# Die ANC-jeugliga se president, Collen Malatjie, is die jongste politieke leier wat die party se voorsitter, Gwede Mantashe, in die openbaar kritiseer na sy omstrede opmerkings oor werkloosheid. Mantashe het onlangs gesê werklose jong Suid-Afrikaners is oorafhanklik van die regering om werk te verskaf in plaas daarvan om self werk te soek. Malatjie sê die ANC het nie onverantwoordelike leiers nodig nie:
# Eskom berig veldbrande het ‘n groot kragonderbreking in die Kouga-, Humansdorp- en Sarah Baartman-areas in die Oos-Kaap veroorsaak. Vier groot kraglyne het uitgeskakel en sommige is vermoedelik deur die brande beskadig of verwoes. Dit het veroorsaak dat 12 substasies, onder meer Melkhout, Sunnyside, Kouga en Tsitsikamma sonder elektrisiteit is. Eskom sê hy sal met herstelwerk begin sodra dit veilig is om die betrokke gebiede te bereik. Die brande het veroorsaak dat die munisipaliteit ontruimingsbevele moes uitreik.
# Minnesota se goewerneur, Tim Walz, sê president Donald Trump se administrasie weier dat amptenare van die staat deel is van die ondersoek na die noodlottige skietvoorval waarby ʼn beampte van die Doeane-agentskap in Minneapolis betrokke was. Die 37-jarige Renee Nicole Good is Woensdag dood nadat ʼn ICE-agent haar in haar voertuig geskiet het. Walz sê hy is bekommerd dat die federale regering nie ʼn onpartydige ondersoek sal uitvoer nie:
# Krieket: Die SA20-kragmeting tussen die Joburg Super Kings en die Paarl Royals is na die eerste beurt op Wanderers weens gure weer afgestel. Faf du Plessis en James Vince het ʼn aanvangsvennootskap van 73 aangeteken en die tuisspan het in hulle 20 boulbeurte 187 vir ses behaal. Die besoekers kon weens donderweer en reën egter nie hulle boulbeurt afskop nie en die wedstryd is afgestel. Albei spanne het twee punte gekry. Die Super Kings het nou 17 punte en die Royals bly derde met 15 punte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-49-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-466-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….