Nuus 07:00
BULLETIN 9 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC moet hard werk om vertroue terug te wen
# Die DA in KwaZulu-Natal bevraagteken die onttrekking van die NFP
# En die hoof van die Venezolaanse Presidensiële Wag word afgedank na Maduro se gevangeneming
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die 2024 nasionale en provinsiale verkiesingsuitslag het die party genoop om ernstig introspeksie te doen. Die ANC het in die 2024 algemene verkiesing die eerste keer sedert die begin van demokrasie sy volstrekte meerderheid in die Parlement verloor. Mbalula het gister tydens die ANC-vroueliga se heilige uManyano-vergadering in Noordwes gesê die party het ‘n reusetaak om weer kiesers se vertroue te wen:
# Die Universele Basiese Inkomste Koalisie waarsku die regering se voorstelle om die toelaag aan indiensneming-verwante voorwaardes te koppel kan begunstigdes wat kwalifiseer uitsluit. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het in die mediumtermyn-begrotingbeleidsverklaring in November gesê die noodtoelaag vir maatskaplike verligting sal uitgebrei word en voorstelle word gefinaliseer om die werksouderdom met vaardigheidsontwikkeling en indiensnemingsprogramme te verbind. Die Universele Basiese Inkomste Koalisie sê die gebrek aan inligting maak miljoene mense onrustig wat op die SDR-toelaag staatmaak.
# Die DA in KwaZulu-Natal het die motief agter die National Freedom Party se onttrekking aan die regering van provinsiale eenheid bevraagteken. Dit verander die balans in die wetgewer van 80 setels en laat die regerende koalisie met 40 setels. Die DA se provinsiale leier, Francois Rodgers, sê dis jammer die NFP dwing sy verteenwoordiger, Mbali Shinga, om uit die wetgewer en as LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling te bedank:
# Die interim-president van Venezuela, Delcy Rodríguez, het die bevelvoerder van die presidensiële erewag, Javier Marcano Tábata, ontslaan. Dit volg dae na die Amerikaanse magte president Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores, gevange geneem het. Die presidensiële wag, verantwoordelik vir die beskerming van die staatshoof, het glo tydens die inval ongevalle gely. Rodríguez, wat deur die Nasionale Vergadering ingesweer is, veroordeel Maduro se inhegtenisneming as ‘n onwettige ontvoering. Die Amerikaanse president Donald Trump het gedreig dat Rodríguez ‘n erger lot as Maduro in die gesig sal staar as sy nie aan eise voldoen nie.
# Tennis: China se Olimpiese kampioen, Zheng Qinwen, het haar weens fiksheid aan die Australiese Ope onttrek. Sy het verlede jaar ‘n elmboogoperasie ondergaan. Die besering het haar sedert Wimbledon op die kantlyn gehou en sy het eers in September teruggekeer toe sy in die derde ronde van die Chinese Ope onttrek het. Zheng, wat in die eindstryd van 2024 se Australiese Ope teen die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, verloor het, sê om in ‘n Grand Slam te speel, vereis ‘n fiksheidsvlak wat sy nog nie bereik het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-791-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-456-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….