Nuus 16:00
BULLETIN 8 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC herbevestig sy verbintenis tot die geskiedkundige alliansie met die SAKP
# Die ‘Kaapse Dokter’ veroorsaak die ergste uitvoervertragings in jare
# En krieket: Dale Steyn sê die Proteas se T20-Wêreldbekergroep is onervare op sleutelgebiede
# Die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, het bevestig die SAKP is steeds deel van die party se agenda. Mokonyane het tydens die party se 114de verjaardagvieringe in Phela, Noordwes, gesê die ANC is steeds verbind tot hierdie geskiedkundige alliansie, al gaan die SAKP afsonderlik deelneem aan die plaaslike regeringsverkiesing. Sy het die noodsaaklikheid vir eenheid beklemtoon te midde van die ANC se worsteling met uitdagings. Sy het bygevoeg dat kommuniste tradisioneel gehelp het om die beweging te lei en te herbou:
# Die Stad Kaapstad waarsku ‘n sterk suidoostewind het groot uitvoervertragings veroorsaak op die Kaapstadse hawe. Die Kaapse Dokter het gesorg dat honderde bedryfsure in die druk seisoen verlore gegaan het met vrugte en ander verskepings wat die meeste geraak is. Hyskraanbedrywighede en die laai van vaartuie is ontwrig en van die uitvoerders is gedwing om hul vrag na ander hawens te herlei. Bedryfsbronne sê dit is van die ergste windverwante vertragings in jare, wat voorsieningskettings onder druk plaas en logistieke koste verhoog.
# Vyf verdagtes is vroeg vanoggend doodgeskiet tydens ‘n skietgeveg met die polisie in die Bester-gebied in Inanda, KwaZulu-Natal. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê hulle is gesoek vir moord, poging tot moord, insluitend op polisielede, en huisroof. Hy sê die bende het chaos veroorsaak in Inanda en omliggende gebiede:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump het aangekondig Amerika gaan aan talle internasionale en Verenigde Nasies-instellings onttrek en sê hul is teenstrydig met Amerika se nasionale belange. Die VN se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering is onder die 31 VN-instellings en 35 ander groepe. Amerika sal ook onttrek van die VN se Vroue-agentskap, wat werk vir geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue, en die VN-Bevolkingsfonds, wat fokus op gesinsbeplanning en ma- en kindergesondheid in meer as 150 lande. Trump het reeds grootliks vrywillige befondsing aan die meeste VN-agentskappe verminder.
# Krieket: Die voormalige Protea-snelbouler Dale Steyn glo Suid-Afrika se groep vir volgende maand se T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka is onervare op sleutelgebiede. Hy bevraagteken sekere besluite, veral die uitlating van Tristan Stubbs en Ryan Rickelton, en die insluiting van onervare spelers soos Jason Smith en Kwena Mapheka. Steyn sê ondervinding van groot toernooie is ononderhandelbaar in die Wêreldbeker. Die Proteas speel hulle groepswedstryde teen Nieu-Seeland, Afganistan, Kanada en die Verenigde Arabiese Emirate. Die toernooi begin op 7 Februarie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-840-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-413-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….