Nuus 15:00
BULLETIN 8 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC herbevestig sy verbintenis tot die geskiedkundige alliansie met die SAKP
# Volvo herroep EX30 elektriese motors in Suid-Afrika weens die gevaar dat batterye ‘n brand kan veroorsaak
# En Rubio gaan met Denemarke praat oor Groenland
# Die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, het bevestig die SAKP is steeds deel van die party se agenda. Mokonyane het tydens die party se 114de verjaardagvieringe in Phela, Noordwes, gesê die ANC is steeds verbind tot hierdie geskiedkundige alliansie, al gaan die SAKP afsonderlik deelneem aan die plaaslike regeringsverkiesing. Sy het die noodsaaklikheid vir eenheid beklemtoon te midde van die ANC se worsteling met uitdagings. Sy het bygevoeg dat kommuniste tradisioneel gehelp het om die beweging te lei en te herbou:
# Volvo Cars Suid-Afrika het 372 EX30 elektriese voertuie wat in Gauteng verkoop is herroep, nadat ‘n moontlike hoëspanning-batteryfout geïdentifiseer is. Die Nasionale Verbruikerskommissie waarsku dit kan oorverhitting veroorsaak wanneer die motor gelaai word en ‘n brandgevaar inhou. Die herroeping raak sekere EX30 Enkelmotor-uitgebreide reeks- en Dubbelmotorprestasie-modelle tussen 2024 en vanjaar. Eienaars word versoek om hul naaste Volvo-handelaar te besoek vir ‘n gratis inspeksie en herstelwerk, en om battery-ladingsvlakke onder 70-persent te hou tot die probleem opgelos is.
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê die massa-visvrektes in die Hartenbos-riviermonding in die Wes-Kaap hou nie verband met rooigety of ‘n rioolstorting nie. Die vrektes is waarskynlik veroorsaak deur vuil water, lae varswatervloei en skadelike algebloei, wat suurstof in die water verminder. Thobile Zulu-Molobi van die departement het die publiek gewaarsku om nie enige uitgespoelde vis op te tel of te eet nie, aangesien dit ernstige gesondheidsgevare kan inhou.
Nuus uit die buiteland:
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, vergader volgende week met Deense leiers, maar gee geen aanduiding van president Donald Trump se plan om Groenland oor te neem nie. Hy het aan joernaliste gesê Trump behou die keuse van militêre optrede. Groenland is strategies geleë tussen Europa en Noord-Amerika, wat dit reeds dekades lank ‘n belangrike terrein vir Amerikaanse ballistiese missiel-verdedigingstelsels maak. Die Withuis sê Trump bespreek alle moontlikhede om Groenland te bekom, ondanks Europese teenkanting.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, erken dat hy teleurgesteld is na die span se uitskakeling in die ronde van 16 op die Afrikabekertoernooi in Marokko. Hy sê daar was hoë verwagtinge van die voormalige bronsmedaljewenner, maar die kompetisie was straf. Broos sê die fokus verskuif nou na vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Kanada, Mexiko en Amerika:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-12-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-428-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….