Nuus 12:00
BULLETIN 8 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê geen regsplig bestaan om die paneelverslag oor die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings openbaar te maak nie
# Krieket: Australië beklink ‘n oorwinning van 4-1 in die reeks om die As teen Engeland
# En die ANC vier vandag sy 114de bestaansjaar
# Die Presidensie sê hy gaan nie die verslag bekend maak wat president Cyril Ramaphosa van die raadplegingspaneel ontvang het oor ‘n geskikte kandidaat vir die pos van Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging nie. Ramaphosa het Andy Mothibi in die pos aangestel, hoewel hy nie onder die ses kandidate op die kortlys was nie. Die paneel het bevind geen van die kandidate is geskik vir die pos nie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan News24 gesê daar is geen wetlike verpligting om die verslag openbaar te maak nie.
Die Vereniging van Staatsamptenare sê intussen hy is vol vertroue Mothibi sal integriteit, vasberadenheid en bestendigheid in die Nasionale Vervolgingsgesag verseker. Hy lei tans die Spesiale Ondersoekeenheid. Claude Naicker van die vakbond sê president Cyril Ramaphosa moet verseker die NVG word voorsien van die nodige hulpbronne en genoeg aanklaers moet sonder versuim aangestel word:
Nuus uit die buiteland:
# Venezuela se minister van Binnelandse Sake, Diosdado Cabello, sê 100 mense is Saterdag dood toe Amerika president Nicolás Maduro uit sy amp verwyder het. Amptenare sê ‘n groot aantal van Maduro se veiligheidswagte, asook lede van Kuba se Weermag en intelligensiedienste in die land, is dood. Maduro se been is volgens berigte beseer en sy vrou, Cilia Flores, het ʼn kopbesering opgedoen. Venezuela het Dinsdag ʼn week van rou afgekondig vir Weermaglede wat in die voorval gesterf het.
# Krieket: Australië het Engeland met vyf paaltjies verslaan in die vyfde en laaste toets om die As in Sydney om die reeks 4-1 te beklink. Die besoekers se tweede beurt het op 342 geëindig na Jacob Bethell se 154. Australië het die teiken van 160 in hulle 32ste boulbeurt bereik. Die speler van die reeks, Mitchell Starc, wat 31 paaltjies platgetrek het, sê dit was ‘n uitputtende kompetisie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-509-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-429-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Die oudste bevrydingsbeweging in Afrika, die ANC, vier vandag sy 114de bestaansjaar. Die party is op hierdie dag in 1912 in Bloemfontein gestig. Die ANC het ná die algemene verkiesing in 2024 die eerste keer in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis sy meerderheid in die Parlement verloor. Dit bly egter die grootste party met meer as 40-persent van die stemme. Die ANC sê hy vier meer as ‘n eeu van onwrikbare toewyding aan die bevrydingstryd, eenheid en maatskaplike geregtigheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….