Nuus 11:00
BULLETIN 8 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê geen regsplig bestaan om die paneelverslag vir die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings openbaar te maak nie
# Brittanje het Amerika gehelp om ‘n Russiese tenkskip te onderskep
# En krieket: Australië beklink ‘n oorwinning van 4-1 in die reeks om die As teen Engeland
# Die Presidensie sê hy gaan nie die verslag bekend maak wat president Cyril Ramaphosa van die raadplegingspaneel ontvang het oor ‘n geskikte kandidaat vir die pos van Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging nie. Ramaphosa het Andy Mothibi in die pos aangestel, hoewel hy nie onder die ses kandidate op die kortlys was nie. Die paneel het bevind geen van die kandidate is geskik vir die pos nie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan News24 gesê daar is geen wetlike verpligting om die verslag openbaar te maak nie.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, vra verhoogde waaksaamheid en verskerpte monitering om verdere lewensverlies tydens die inlywingsproses te voorkom. Altesaam 48 sterftes is die afgelope somer-seisoen in die Oos-Kaap en die Vrystaat aangemeld, waar die meeste sterftes voorgekom het. Die departement se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê die sukses van die proses hang af van gekoördineerde optrede deur alle belanghebbendes:
# Die DA sê die Gautengse regering het die afgelope twee weke slegs 606 Graad een- en Graad agt-leerders geplaas. Met minder as ‘n week voor skole heropen, is steeds meer as vier-duisend kinders nie geplaas nie. Die party glo die kern van die krisis is laat toelatings, swak beplanning en ‘n gebrek aan deursigtigheid. Die DA-lid, Sergio Isa dos Santos, sê party kinders word in skole geplaas wat tot 95 kilometer van die huis af is, en ‘n swaar finansiële las op gesinne plaas.
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse minister van Verdediging, John Healey, sê die Verenigde Koninkryk het Amerika gehelp om ‘n olietenkskip wat onder die Russiese vlag vaar, te onderskep om skadu-skeepbedrywighede en diegene wat sanksies ontduik, te beveg. Amerikaanse magte het gister in die Noord-Atlantiese Oseaan aan boord van die Marinera gegaan. Healey sê hy het toestemming gegee dat Leër-basisse in die Verenigde Koninkryk en die Koninklike Vloot en Lugmag se bates gebruik word om die operasie te ondersteun:
# Krieket: Australië het Engeland met vyf paaltjies verslaan in die vyfde en laaste toets om die As in Sydney om die reeks 4-1 te beklink. Die besoekers se tweede beurt het op 342 geëindig na Jacob Bethell se 154. Australië het die teiken van 160 in hulle 32ste boulbeurt bereik. Die speler van die reeks, Mitchell Starc, wat 31 paaltjies platgetrek het, sê dit was ‘n uitputtende kompetisie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-754-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-434-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….