Nuus 08:00
BULLETIN 8 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa dring aan op die verwydering van rompslomp om handel te bevorder voor 8 Januarie
# Robert McBride en Paul O’Sullivan gaan voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig
# En ‘n babamelkformule word teruggeroep oor ‘n potensiële gifstof
# Die ANC-president, Cyril Ramaphosa vra vir die vermindering van rompslomp om handel te bevorder op die vooraand van die party se 8 Januarie-vieringe. Ramaphosa het tydens ‘n multisektorale dialoog in Groter-Rustenburg gevra dat handelaars toegelaat word om behoorlik en wettig te funksioneer. Hy het ook inligting bekend gemaak oor die ANC-geleide regeringsingrypings, met die klem op aanspreeklikheid en voortgesette betrokkenheid by gemeenskappe terwyl die party vandag sy 114de bestaansjaar vier:
# Die gewese hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Robert McBride, die private forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan, en geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi, is van die sleutelgetuies wat volgende voor die parlementêre ad hoc-komitee sal getuig. Die komitee wat bewerings van korrupsie in die strafregstelsel ondersoek, se mondelinge verhore hervat volgende week. McBride word beskuldig dat hy met O’Sullivan saamgewerk het om sekere individue in die polisiediens te teiken. Mkhwanazi word beskuldig van ‘n ongeoorloofde verhouding met die moordbeskuldigde Vusimuzi “Cat” Matlala.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het die Nestlé-produk NAN in 800 gram blikke onttrek. Die aankondiging volg na ‘n verslag deur ‘n verskaffer van een van die bestanddele dat die baba-formule moontlik besmet is met ‘n gifstof wat braking en diarree kan veroorsaak. Die onttrekking raak produkte wat in Suid-Afrika, Namibië en Eswatini verkoop word. Geen siektes is tot dusver aangemeld is nie. Phetho Ntaba van die kommissie sê hulle sal voortgaan om die situasie te monitor ten einde die produk se veiligheid te verseker:
# Amerika se minister van Binnelandse Veiligheid, Kristi Noem, het die optrede van ʼn ICE-agent verdedig wat ʼn 37-jarige vrou in Minneapolis doodgeskiet het. Sy sê dodelike geweld is wettig wanneer ʼn wapen iemand bedreig. Owerhede sê die skietvoorval het plaasgevind toe ʼn gewelddadige betoger probeer het om ʼn immigrasiebeampte om te ry. Die oorledene is uitgeken as Renee Nicole Good. Noem beskryf die voertuigbestuurder se optrede as binnelandse terrorisme:
# Krieket: Shai Hope en Lungi Ngidi het die Pretoria Capitals na ʼn 15-lopie-sege teen Durban se Super Giants gelei in hul SA20-kragmeting op Kingsmead. Hope het ʼn onoorwonne 118 van 69 balle behaal, wat die hoogste individuele telling in die toernooi se geskiedenis is. Die besoekers het 201 vir vier in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Daarna het Lungi Ngidi die Liga se heel eerste driekuns behaal en die Super Giants was op 186 almal uit met die Engelsman, Jos Buttler, wat met ʼn onoorwonne 97 spog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22 sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-13 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-en-926 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-438 dollar 49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-95-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….