Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig KwaZulu-Natal het die bevriesing van apteek-internskappe herroep. Dit volg volgens die koerant na druk uitgeoefen is deur belangegroepe en die skraal begroting heraangewend is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa het die bevelvoerder van die Spesiale Ondersoekeenheid, advokaat Andy Mothibi aangestel as nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Hy was nie op die kortlys van kandidate nie. Sy aanstelling is allerweë verwelkom, maar daar is kommer uitgespreek oor sy ouderdom.
Dan skryf die webblad die oorlogskepe van China het reeds in Simonstad aangekom en die Iranse vloot is op pad. Die BRICS-vlootoefening is volgens die Weermag daarop gerig om handelsroetes te beveilig.
En laastens is daar nuus oor jong Suid-Afrikaners se kredietverbruik wat steeds toeneem. Die blad berig dis veral vir die aankoop van voertuie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die aanstelling van Mothibi as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging is deel van ‘n groter strategie om die NVG reg te ruk.
En tweedens word berig die 14 Suid-Afrikaners wat met ‘n beweerde werwingslenter Thailand toe gelok is, gaan gedeporteer word.
# Sowetan:
Lei met: “WILL HE CATCH THE BIG FISH?” Die koerant berig ook oor die aanstelling van advokaat Andy Mothibi.
# En The Citizen:
Skryf ‘n regter is aangestel om ondersoek in te stel na bewerings dat waarnemende regter Samuel Makamu omkoopgeld ontvang het om verlof tot appèl te verleen in ‘n uitsettingsaak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die omstandighede met die uitbreking van brande in Mosselbaai. Tientalle mense moes gisteraand hul huise ontruim. Talle strukture is reeds deur die brand verwoes en die N2 is vir ‘n ruk lank gesluit. Die munisipaliteit sê stormsterk wind bemoeilik brandbestryders se werk.
En tweedens skryf die koerant ook oor die BRICS-vlootoefening.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Spesiale Ondersoekeenheid het verdere inligting bekend gemaak oor sy ondersoek na die uitreiking van onwettige tenders in Nelson Mandelabaai.
En tweedens skryf die koerant organisasies wat na die welsyn van diere omsien, is onder ernstige druk.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf nadat nog ongeïdentifiseerde liggame onlangs in die Duzirivier gevind is, het die polisie die soektog na meer liggame in die rivier verskerp. Die koerant berig die polisie probeer die omstandighede rondom die sterftes bepaal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
In nog ‘n spesiale digitale uitgawe staan die koerant vandag sy voorblad af aan die wynbedryf.