Nuus 07:00
BULLETIN 8 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Basiese Onderwys bevestig dat die matriekuitslae in koerante gepubliseer sal word
# Die NFP onttrek hom aan die KwaZulu-Natalse regering van provinsiale eenheid
# En motorsport: Henk Lategan oorheers die vierde skof van die Dakar-tydren
# Die Departement van Basiese Onderwys sê die Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae sal Dinsdag in geakkrediteerde koerante gepubliseer word. Dit ten spyte daarvan dat die Inligtingsreguleerder verlede week die Appèlhof genader het om te appelleer teen ‘n beslissing dat matriekuitslae, soos sedert 2022, op openbare platforms uitgegee word deur kandidate se eksamennommer te gebruik. Die departement se woordvoerder, Terence Khala, sê geen name, vanne of ID-nommers sal gepubliseer word nie:
# Die GOOD-party sê die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, het ‘n sterk prestasierekord en die ervaring wat nodig is om die integriteit van die Nasionale Vervolgingsgesag te herstel. Mothibi is tans die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid en neem volgende maand oor by Shamila Batohi. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, prys Mothibi vir die terugvordering van miljarde-rand wat weens korrupsie verlore gegaan het en vir sy leiding van ‘n toegewyde misdaadbestrydingspan:
# Die National Freedom Party het met onmiddellike ingang aan die KwaZulu-Natalse regering van provinsiale eenheid onttrek. Die party het die besluit tydens ʼn vergadering van sy Nasionale Uitvoerende Komitee geneem. Die NFP, wat een setel in die provinsiale wetgewer van 80 lede het, is die koningmaker in die koalisie wat deur die IVP gelei word, saam met die ANC en die DA. Die party het sy provinsiale voorsitter en LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, en enigste NFP-lid in die wetgewer, Mbali Shinga, beveel om teen vandag te bedank.
# Die Russiese ministerie van Vervoer sê geen staat mag geweld gebruik teen vaartuie wat binne die jurisdiksie van ander nasies geregistreer is nie. Amerika het beslag gelê op ʼn olietenkskip, met Venezolaanse bande maar onder die Russiese vlag, nadat hy dit oor die Atlantiese Oseaan gevolg het. Daar was nog ‘n vaartuig in die Karibiese See. Die ministerie sê Moskou het die Marinera met ʼn tydelike permit wat op Oukersdag uitgereik is, toestemming gegee om onder die Russiese Federasie se vlag te vaar. Hy sê Amerika het maritieme reg oortree.
# Motorsport: Henk Lategan van Suid-Afrika het die vierde skof van die Dakar-tydren gewen en is nou boaan die algemene ranglys. Lategan, wat verlede jaar algeheel tweede was, het die vyfde skof van sy loopbaan in sy Toyota Hilux gewen. Die vyfmalige Dakar-kampioen van Katar, Nasser Al-Attiyah, was tweede vinnigste en Marek Goczał van Pole derde. Lategan sê hy het net instinktief gery nadat hy Dinsdag nege pap wiele gekry het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-411-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-455-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….