Nuus 06:00
BULLETIN 8 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hy het volle vertroue in Mothibi om die NVG deur sy oorgangstydperk te lei
# Knysna staar ‘n ernstige waterkrisis in die gesig met minder as twee weke se voorraad beskikbaar
# En die VSA lê beslag op ‘n tenkskip onder die Russiese vlag met Venezuela-bande
# President Cyril Ramaphosa sê advokaat Andy Mothibi sal die Nasionale Vervolgingsgesag deur sy oorgangstydperk lei. Die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid sal die aftredende nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, vervang, wie se termyn hierdie maand eindig. Ramaphosa sê, ten spyte daarvan dat Mothibi aftree-ouderdom nader, het hy volle vertroue dat hy die NVG vorentoe sal neem:
Die leier van RISE Mzansi, Songezo Zibi, het intussen ‘n beroep op Mothibi gedoen om sistemiese probleme in die Nasionale Vervolgingsgesag aan te pak. Zibi het die onderbenutting van beide personeel en begrotings uitgelig en die behoefte aan bekwame ondersoekbeamptes beklemtoon. Zibi het verwys na die Valke se vakaturekoers van 49-persent en die gebrek aan forensiese en digitale spesialiste, en sê holistiese hervormings reg oor ondersoek en vervolging is van kritieke belang vir Mothibi om die regstelsel te versterk:
# Knysna in die Wes-Kaap staar ‘n volskaalse waterkrisis in die gesig, met slegs sowat 13 dae se voorraad in die dorp se hoofdam, Akkerkloof, wat nou net 20-persent vol is. Die burgemeester Thando Matika sê onmiddellike optrede is uiters belangrik, aangesien vlak vier-waterbeperkings reeds in plek is. Owerhede, insluitend die Gesamentlike Operasionele Komitee, koördineer noodmaatreëls en doen ‘n beroep op inwoners, sakeondernemings en besoekers om watergebruik drasties te verminder om te verhoed dat krane leegloop.
# Die VSA het Woensdag beslag gelê op ’n tenkskip met bande met Venezuela en onder ‘n Russiese vlag vaar, as deel van president Donald Trump se aggressiewe pogings om olievloei te beheer. Ná die afsetting van Nicolás Maduro blokkeer Washington gesanksioneerde vaartuie in die see rondom Venezuela. Volgens amptenare het die Amerikaanse Kuswag en die weermag die tenkskip beset. Die Kuswag het ook ‘n ander volgelaaide tenkskip met bande met Venezuela naby die noordoostelike kus van Suid-Amerika onderskep, in die vierde soortgelyke geval die laaste paar weke.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Ruan Venter gaan die Leeus se volgende vier wedstryde misloop. Hy is geskors na sy rooikaart teen die Haaie in verlede naweek se Rugbykampioenskapswedstryd in Durban. Venter is met ‘n geelkaart afgestuur na kop kontak met die Haaie se Bok-agterspeler, Aphelele Fassi, en dis opgradeer na ‘n 20-minute-rooikaart. Sy skorsing van ses weke is na vier verlaag danksy berou en sy puik gedrag tydens die tugproses. Venter kan eers weer in Februarie speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-358-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-462-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….