Nuus 17:00
BULLETIN 7 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Corruption Watch is bekommerd oor die proses rondom die aanstelling van Andy Mothibi
# City Power verleng die sperdatum vir omskakeling van voorafbetaalde kragmeters na faktuurkragmeters
# En, die VSA-Venezuela-olieverdrag ontstel China, en dwing pryse laer
# Corruption Watch het sy oproep herhaal vir groter deursigtigheid en openbare deelname met die aanstelling van leiers van belangrike teen-korrupsie-instellings. Die organisasie het die aanstelling van advokaat Andy Mothibi as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging verwelkom en verwys na sy ervaring as hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid. Lebogang Ramafoko van Corruption Watch is egter bekommerd dat Mothibi nie deel was van die formele onderhoudsproses nie:
Die MK-party het intussen gevra vir ‘n hersiening van die president se magte om die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging aan te stel. Die party meen dit moenie uitsluitlik by die president berus nie, maar openbare deelname moet ingesluit word om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te verseker. Woordvoerder Nhlamulo Ndhlela sê die huidige stelsel skep die gevaar vir politieke inmenging in belangrike grondwetlike instellings en ondermyn openbare vertroue in die regstelsel:
# City Power het die sperdatum vir die omskakeling van voorafbetaalde residensiële kragmeters na faktuurkragmeters tot 30 Junie 2026 verleng. Die proses sou aanvanklik in Desember 2025 eindig. Die woordvoerder, Isaac Mangena, sê die verlenging gee klante tyd om rekeninge te reguleer, om hul samewerking te gee met meteroudits en om faktureringsprobleme op te los. Hy beklemtoon dit is gemik op die beperking van inkomsteverliese, die aanspreek van onwettige verbindings, die verbetering van fakture, en aandag aan klagtes deur sy klante in Johannesburg:
# Oliepryse het vandag wêreldwyd gedaal met China wat die VSA ‘n boelie noem, nadat die Trump-administrasie gesê het Venezuela is oorreed om voorrade uit Beijing te herlei en 37-miljard-rand se ruolie wat onder embargo is, in te voer. Die ooreenkoms is in lyn met Trump se doelwit om Venezuela se reuse-oliereserwes te beheer nadat die land se leier, Nicolas Modura in hegtenis geneem is. Trump het Dinsdag gesê as president van Amerika sal hy die geld uit die verkoop van die olie beheer om seker te maak dit word aangewend vir die mense van Venezuela en die Verenigde State.
# Krieket: Bangladesj en die Internasionale Krieketraad bespreek die moontlikheid dat die land sy T20-Wêreldbekerwedstryde buite Indië kan speel. Die verhouding tussen die twee lande is gespanne en is vererger toe die Bangledesj-snelbouler Mustafizur Rahman uit die Indiese Premierliga gedwing is. Bangladesj wil sy wedstryde weens veiligheidsvrese in Sri Lanka speel, wat mede-gasheer is. Al vier sy groepswedstryde is in dié stadium vir Indië geskeduleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-839-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-433-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….