Nuus 14:00
BULLETIN 7 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se opvolg-gesprekke is geskeduleer vir 2027
# Amerika steun veiligheidswaarborge vir Oekraïne op ‘n spitsberaad van Kiëf se bondgenote in Parys
# En sokker: Die Afrikabeker-kwarteindronde gaan strawwe kragmetings oplewer
# Die ANC se tesourier-generaal, Gwen Ramokgopa, sê besprekings oor president Cyril Ramaphosa se opvolger sal eers volgende jaar begin. Sy het op die ANC se Presidensiële Gholfdag in Sun City, Noordwes, gesê die party se huidige fokus is op die komende plaaslike regeringsverkiesing. Sy voeg by Suid-Afrika is gereed vir ‘n vroue-president en beklemtoon leierskapuitkomste sal ANC-verkiesingsprosesse volg om die beste kandidaat te kies:
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Xola Nqola, sê Andy Mothibi se aanstelling as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging gebeur op ‘n kritieke tyd vir die herstel van vertroue in die strafregstelsel. Nqola sê Ngola moet onafhanklikheid, integriteit en deursigtigheid handhaaf terwyl korrupsie en georganiseerde misdaad beslissend aangepak word. Nqola erken die president se grondwetlike reg en herbevestig die Parlement se toesighoudende rol. Hy verwelkom ook die aanstelling van Leonard Lekgetho as die waarnemende hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid na Mothibi se vertrek.
Activists and Citizens Forum verwelkom ook die nuwe aanstelling van Mothibi, wat tans hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid is, en stem saam dat dit ‘n positiewe stap is om vertroue in die regstelsel te herstel. Woordvoerder Dennis Bloem sê dit bied ‘n geleentheid om aanspreeklikheid te versterk, aanklaers-onafhanklikheid te verbeter en korrupsie aan te pak. Hy vra Mothibi om hoëprofiel-korrupsiesake sonder vrees, begunstiging of politieke inmenging te ondersoek:
Nuus uit die buiteland:
# Amerika steun die eerste keer ‘n breë koalisie van Oekraïne se bondgenote, met ‘n belofte van veiligheidswaarborge wat bindende verbintenisse insluit om die land te ondersteun indien Rusland hom weer aanval. Die belofte is gemaak op ‘n spitsberaad in Parys van hoofsaaklik Europese nasies om waarborge te versterk en Kiëf gerus te stel in die geval van ‘n wapenstilstand met Rusland. Dit is ook bygewoon deur die Amerikaanse gesante Steve Witkoff en president Donald Trump se skoonseun, Jared Kushner, en die voorste Amerikaanse generaal in Europa, Alexus Grynkewich.
# Sokker: Die deelnemers aan die Afrikabekertoernooi se kwarteindronde is bepaal. Die verdedigende kampioen, Ivoorkus, kom Saterdag teen die sewemalige kampioen, Egipte, te staan in wat beloof om ‘n opwindende wedstryd te wees. Die gasheer, Marokko, pak Vrydag met sy tuisskare se ondersteuning die vyfmalige wenner, Kameroen, terwyl Senegal en Mali sake sal uitspook in ʼn Wes-Afrika-derbie. Die vasteland se twee swaargewigte, Nigerië en Algerië, se kragmeting vind Saterdag plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-754-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-464-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….