Nuus 11:00
BULLETIN 7 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die WVK-vervolgingskommissie is nie bekommerd oor Zuma en Mbeki se aansoeke vir Khampepe se onttrekking nie
# Ramaphosa stel Leonard Lekgetho aan as waarnemende hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid
# En gholf: Vroue kry hul eie weergawe van die TGL-liga
# Die Waarheids- en Versoeningskommissie se Vervolgingskommissie sê voorsitter Sisi Khampepe is vasbeslote om die kommissie se opdrag na te kom. Dit volg op die aansoeke deur oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki vir haar onttrekking. Beweerde botsende belange, wangedrag en vrees vir vooroordeel word as redes aangevoer. Woordvoerder Lionel Adendorf het aan Newzroom Afrika gesê die aansoeke vir Khamphepe se onttrekking is geen rede tot kommer nie:
# President Ramaphosa het Leonard Lekgetho as waarnemende hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid aangestel, nadat hy die eenheid se huidige hoof, Andy Mothibi, as die nuwe nasionale direkteur van Openbare Vervolging aangewys het. Lekgetho is tans die eenheid se hoofbedryfsbeampte. Die Presidensie sê Lekgetho het meer as 22 jaar ondervinding as forensiese ondersoeker by die destydse direktoraat van spesiale operasies, die Skerpioene.
# Die Mosselbaai-munisipaliteit in die Suid-Kaap sê brandbestryders het die reusebrand in Aalwyndal, Island View, Vakansieplaas en omliggende gebiede onder beheer gebring. Die brand wat talle strukture en voertuie verwoes het, het daartoe gelei dat die gebied gister ontruim is. Die N2 was gisteraand ure lank gesluit tussen die afrit na die Langeberg-winkelsentrum en Danabaai in die rigting van Kaapstad weens digte rook, maar is intussen weer oopgestel. Die munisipaliteit sê hulle sal die situasie deur die dag dophou.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê Venezuela sal 30- tot 50-miljoen vate olie aan Amerika oorhandig, wat teen markwaarde verkoop sal word. Sy administrasie sal die opbrengs bestuur. Dit volg op die militêre optrede teen Venezuela en die gevangeneming van president Nicolás Maduro en sy vrou. Trump sê in ‘n plasing op Truth Social hy het sy minister van Energie, Chris Wright, opdrag gegee om die plan uit te voer. Die olie sal met tenkskepe na aflaaidokke in Amerika vervoer word.
# Gholf: Die TGL-liga wat deur Tiger Woods en Rory McIlroy van stapel gestuur is gaan vanjaar ‘n virtuele vroueliga genaamd WTGL bekend stel. Die wêreld se beste vroue-spelers sal meeding in ‘n seisoen van spanwedstryde in die SoFi-sentrum in Palm Beach Gardens, Florida, waar die TGL die afgelope twee seisoene sy wedstryde aangebied het. Die beroeps-vroue-sterspeler Lexi Thompson sê dis ‘n wonderlike geleentheid vir die vroue-spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-639-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-447-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….