Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Andy Mothibi, as die nasionale direkteur van Openbare Vervolging aangestel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig daar is ernstige verdeeldheid in die regering van nasionale eenheid oor die militêre optrede van president Donald Trump in Venezuela. Terwyl die ANC dit veroordeel, het die VF Plus dit verwelkom en die DA sê die ANC is skynheilig omdat die party nie dieselfde uitspraak oor Oekraïne maak nie.
Tweedens skryf die webblad oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma het aansoeke ingedien om oudregter Sisi Khampepe te verwyder as voorsitter van die kommissie wat inmenging by die Waarheids- en Versoeningskommissie ondersoek.
En laastens is daar nuus oor die brande in Mosselbaai en Pearly Beach.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die ANC-regering se kritiek oor die VSA se optrede in Venezuela. Ramaphosa het die standpunt duidelik gestel tydens die SAKP se Joe Slovo-gedenklesing by die Avalon-begraafplaas in Soweto.
# En The Citizen:
Skryf soos Netwerk24 ook oor die verdeeldheid in die regering van nasionale eenheid oor Trump se inval in Venezuela.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n pa en sy seun van Worcester, Leon en Kyle Olivier is dood toe hulle motorfiets van ‘n brug in Parow tot op die N1 geslinger is. Dit wil voorkom of die motorfiets die pad byster geraak het in die draai van die Giel Basson-afrit na die N1.
En tweedens skryf die koerant NSFAS het nagenoeg 900-duisend aansoeke om befondsing vir 2026 ontvang. Die hulpskema werk deur die aansoeke om die studente voor die begin van die finansiële jaar in kennis te stel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig eerstens oor die aantal voorvalle van kindermishandeling en -verwaarlosing in die Baai wat steeds styg.
En tweedens word berig die inwoners van Nelson Mandelabaai het self ingespring en gehelp om veldbrande onder beheer te bring.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf twee mans van onderskeidelik 43 en 46 het in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn in verband met aanvalle in ‘n taverne in Imbali.
En tweedens word berig daar is ‘n waarskuwing uitgereik vir ‘n ernstige hittegolf in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Skryf vandag oor die bekroonde Belgiese natuurlewe-fotograaf, Griet van Malderen, se foto’s van die woestynleeuwyfie, Gamma, van die Skedelkus-park.