Nuus 07:00
BULLETIN 7 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudpresidente Zuma en Mbeki dien aansoeke in om regter Khampepe te verwyder
# ‘n Buitelandse burger is in hegtenis geneem nadat 10 tienerseuns in Johannesburg gered is
# En tennis: Die enkelspelkampioene by die Australiese Ope sal elk 46,5-miljoen-rand verdien
# Jacob Zuma en Thabo Mbeki het albei aansoek gedoen dat afgetrede regter Sisi Khampepe van die Waarheid- en Versoeningskommissie se vervolgingskommissie verwyder word. Die kommissie ondersoek bewerings van inmengery in die vervolging van misdade uit die apartheid-era. Die Jacob Zuma-stigting se woordvoerder, Mzwandile Manyi, sê die aansoeke voer konflik van belange aan wat verband hou met Khampepe se vorige rolle in die WVK en die Nasionale Vervolgingsgesag:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sal op 31 Januarie vooraf klasgelde aan tegniese en beroepsgerigte opleidingskolleges betaal. Die waarnemende raadsvoorsitter, Mugwena Maluleke, sê die betaling, bereken teen 20-persent van elke kollege se klasgeldtoekenning, sal vroeë werksaamhede ondersteun. Die daaropvolgende betalings sal afhang van bevestigde registrasie-inligting. Hy vra kolleges om korrekte maandelikse opdaterings in te dien en herinner studente daaraan die toelaes sal slegs in persoonlike bankrekenings oorbetaal word:
# ‘n Sewe-en-veertigjarige buitelandse burger is gister in Mulbarton weens beweerde mensehandel gearresteer nadat tien half naakte seuns in Johannesburg se middestad gered is. Die privaat veiligheidsmaatskappy Fox, Johannesburg se metropolisie en lede van die SAPD het gereageer op ʼn wenk dat ʼn groep seuns kaal in Mulbarton rondloop. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê die verdagte sal môre in die Booysens-landdroshof verskyn:
# President Donald Trump het Amerika se militêre optrede in Venezuela as ongelooflik en takties briljant beskryf. Amerika het president Nicolás Maduro en sy vrou Saterdag tydens die operasie in hegtenis geneem en gesê hy sal die land tydelik regeer. Maduro pleit onskuldig op aanklagte soos sameswering tot narko-terrorisme en besit van masjiengewere. Trump het aan Republikeine in die Huis gesê Demokrate is huiwerig om hom geluk te wens al veroordeel hulle Maduro se regime:
# Tennis: Die prysgeld by die Australiese Ope word vanjaar met 16-persent verhoog. Die enkelspelkampioene sal elk 46,5-miljoen-rand ontvang as deel van die totale prysgeld van 1,227-miljard-rand. Die verhoging sluit ook die kwalifiserende rondes in. Die uitvoerende hoof van Tennis Australië, Craig Tiley, sê dit dui op die organisasie se toewyding om die spel op alle vlakke te ondersteun. Die Grand Slam van die jaar begin op die 18de in Melbourne. Die Italianer, Jannik Sinner, en die Amerikaner Madison Keys is die verdedigende kampioene.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-428-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-467-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….