Nuus 09:00
BULLETIN 23 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie wil kieserregistrasie verbeter tydens die laaste registrasie-naweek
# Thabi Leoka bedank uit die MTN-raad oor die skandaal rondom haar PhD
# En, ActionSA sê die ANC moet rekenskap gee oor die sterftes en brande in gekaapte geboue in Johannesburg
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie wil kieserregistrasie verbeter tydens die laaste registrasienaweek van 3 en 4 Februarie. November se eerste naweek het ‘n miljoen nuwe registrasies opgelewer, wat die total tot net meer as 26-miljoen te staan gebring het uit 42,3-miljoen stemgeregtigdes. Hoofkiesbeampte Sy Mamabolo het verseker alle voorbereidings is getref om uitdagings die hoof te bied, insluitend betogings wat sommige stemlokale ontwrig het. Die OVK gaan ook gevangenisse besoek en aanlyn registrasies uitbrei vir Suid-Afrikaners in die buiteland. Hy sal nader aan die naweek hulle gereedheid aankondig.
# Die ekonoom, Thabi Leoka, het bedank uit die raad van die telekommunikasie-reus MTN SA nadat sy gister ook bedank het as nie-uitvoerende direkteur van Anglo American Platinum se raad. Dit het onlangs aan die lig gekom dat sy nie ‘n doktorsgraad in ekonomie by die London School of Economics in die Verenigde Koninkryk behaal het nie. MTN SA sê Leoka het weens haar gesondheid bedank en om aandag te gee aan die vrae oor haar akademiese kwalifikasies. Indien sy nie kan bewys dat sy ʼn PhD aan die instelling verwerf het nie, is aanklagte van meineed en ʼn boete of tronkstraf haar voorland.
# ActionSA in Johannesburg sê hy reken die sterftes weens brande in die Johannesburgse middestad moet vierkantig op die misdadige ANC-geleide regering se skouers geplaas word. ʼn Tweeverdieping-gebou is Sondag doelbewus aan die brand gesteek en twee mense het hul lewens verloor. In die Marshalltown-brand van verlede jaar is 77 mense dood. Albei hierdie geboue was gekaap. Nobuhle Mthembu van ActionSA sê burgemeester Kabelo Gwamanda het alles moontlik probeer om die party se mosies oor gekaapte geboue te kelder:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, eis die 15 vuurwapens en agt nagemaakte wapens wat by die Mitchells Plain-polisiekantoore gesteel is, moet onmiddellik teruggevind word. Die voorval, wat in November verlede jaar ontdek is, het ‘n polisiebeampte betrek, wat intussen gearresteer en afgedank is. Hy moet op 2 Februarie in die hof verskyn. Allen vra ook verdere aanklagte indien die gesteelde vuurwapens in misdade gebruik is:
# Sokker: Nigerië, Egipte, Kaap Verde en Ekwatoriaal-Guinee is deur na die laaste 16 by die Afrikabekertoernooi. Opa Sangante se eie doel het tot Nigerië se een-nul-oorwinning oor Guinee-Bissau gelei. In die ander Groep A-wedstryd het Ekwatoriaal-Guinee die gashere van Ivoorkus met vier-nul verpletter en Nigerië het tweede geëindig in die groep. Egipte is naelskraaps deur na ʼn gelykoptelling van twee elk teen die Groep B-voorloper Kaap Verde. Intussen het Ghana se gelykoptelling van twee elk teen Mosambiek hom ʼn plek onder die laaste 16 gekos.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-en-58-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….