Nuus 18:00
BULLETIN 6 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa vra Suid-Afrikaners om hul grondwetlike beloftes te verwesenlik
# Fikile Mbalula sê Venezuela word geteiken oor sy grondstof-onafhanklikheid
# En, Pous Leo sluit die Katolieke Kerk se Heilige Jaar af
# Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, het Suid-Afrikaners versoek om die regte te verwesenlik wat in die Grondwet vasgelê en gevorm is deur die anti-apartheidsaktivis Joe Slovo. Ramaphosa het in Soweto tydens die 31ste jaarlikse herdenking van die bevrydingsvegter ‘n beroep gedoen vir noodsaaklike transformasie om die nalatenskap van kolonialisme en apartheid omver te werp. Ramaphosa het verbintenisse tot die bekamping van werkloosheid, armoede en ongelykheid herbevestig, sowel as die bevordering van werkers se regte, geslagsgelykheid en inklusiewe ekonomiese deelname:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê Venezuela word geteiken oor sy pogings om beheer oor sy natuurlike hulpbronne te behou en onafhanklike ekonomiese beleide te volg. Hy voer aan dat dit die historiese stryd vir ekonomiese transformasie en billike toegang tot hulpbronne weerspieël en dat reaksionêre magte Venezuela se strewe na ekonomiese geregtigheid en soewereiniteit teenstaan. Mbalula het tydens’n media-inligtingsessie gevra vir die onmiddellike vrylating van president Nicolás Maduro en sy vrou Cilia Flores:
# Sokker: AZAPO het reageer op die situasie in Venezuela en vra die wêreldbeheerliggaam, FIFA, om Amerika te skors van alle bedrywighede, insluitend die aanbieding van vanjaar se Wêreldbekertoernooi, weens wat hy beskryf as Saterdag se onwettige, imperialistiese militêre aanvalle teen Venezuela. AZAPO se voorsitter, Amukelani Ngobeni, sê Amerika moet uitgesluit word van alle FIFA-goedgekeurde geleenthede totdat sy militêre magte onttrek word en Venezuela se soewereiniteit herstel is:
# Die oorskot van vermoedelik een van die twee jong mans is gevind, wat sedert ‘n Nuwejaarsdagvoorval op Pennington-strand aan KwaZulu-Natal se Suidkus, vermis word. Die see het sewe strandgangers meegesleur terwyl hulle geswem het. Twee mense is gered en drie liggame is vroeër gevind. Soek- en reddingspanne, insluitend IPSS Medical Rescue en die Nasionale Seereddingsinstituut, gaan voort met uitgebreide operasies langs die kuslyn en op see om die oorblywende vermiste persoon op te spoor.
# Pous Leo het die Katolieke Kerk se Heilige Jaar afgesluit deur die spesiale Heilige Deur in die Sint Pietersbasilika te verseël. Hy het Christene wêreldwyd aangespoor om mense in nood te help en buitelanders vriendelikheid te behandel. Leo het sedert verkiesing as pous die kwessie van immigrante beklemtoon. Hy het tydens die seremonie in die Vatikaan gesê die 33,5-miljoen pelgrims wat Rome in die Heilige Jaar besoek het, is ‘n aanduiding dat mense meer as net items is. Heilige jare vind elke 25 jaar plaas en word beskou as ‘n tyd van vrede, vergifnis en kwytskelding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-375-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-466-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….