Nuus 16:00
BULLETIN 6 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC waarsku Amerikaanse bedrywighede in Venezuela lei tot wêreldwye onbestendigheid en ‘n ernstige humanitêre krisis
# Krieket: Die verdedigende SA20-kampioen hoop om die gety weer in sy guns te laat draai
# En ‘n kunsmatige intelligensie-stelsel word ontwerp om motors soos mense te laat dink
# Die ANC sê Amerika se onlangse optrede teen Venezuela hou wêreldwye onbestendigheid en ‘n ernstige humanitêre krisis in. Die party voer aan eensydige ingryping ondermyn internasionale reg, staatsoewereiniteit en multilaterale instellings soos die Verenigde Nasies. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het op ‘n nuuskonferensie gevra vir dialoog en respek vir internasionale regsraamwerke, en waarsku Venezuela en ander ontwikkelende lande ly dikwels die meeste wanneer wêreldwye spanning vererger:
# FNB en die Buro vir Ekonomiese Navorsing se siviele vertrouens-aanwyser het met nege punte gestyg in die vierde kwartaal van 2025 en 52 bereik ná ‘n styging van twee punte in die derde kwartaal. Dit is die gesamentlike beste vlak in 11 jaar. Die huidige lesing beteken meer as 50-persent van die deelnemers was tevrede met huidige saketoestande. FNB se senior ekonoom, Siphamandla Mkhwanazi, sê dit het meer werk geskep en die algehele winsgewendheid is ook hoër. Hy voeg by dit het ongetwyfeld bygedra tot ‘n beter gemoedstoestand.
# City Power het ses kontrakteurs in Fordsburg, Johannesburg, betrap toe hulle die ondergrondse elektrisiteitsinfrastruktuur opsetlik beskadig het. Die verdagtes is tydens ‘n intelligensie-gedrewe operasie aangekeer terwyl hulle ondergrondse koperkabels sonder ‘n geldige werkopdrag gesny het. Nege kabelgedeeltes van altesaam meer as 24-meter was reeds beskadig. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die verdagtes het vir ‘n wettige kontrakteur gewerk en dus die openbare vertroue geskend:
# Krieket: Die verdedigende SA20-kampioen, MI Cape Town, hoop om ‘n ommekeer te maak in vandag se tuiswedstryd teen Joburg Super Kings. MI Cape Town is tans sesde en laaste op die punteleer nadat hy vier van sy eerste vyf wedstryde verloor het, terwyl die ander een uitgereën het. JSK is tweede na Sunrisers Eastern Cape. Die veelsydige Protea-speler, Corbin Bosch, glo steeds sy span kan hul lot omdraai as sy kolwers en boulers weer hulle beste spelpeil kan herwin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-848-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-462-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-86-sent per vat.
# En laastens: Die wêreldleier in kunsmatige intelligensie-stelselontwerpe, Nvidia, het ‘n nuwe KI-platform bekendgestel wat aansienlike verbetering beloof in die manier waarop selfbesturende motors reageer. Uitvoerende hoof Jensen Huang het Alpamayo tydens ‘n tegnologiekonferensie in San Francisco, Amerika, bekendgestel en sê outonome voertuie bied iets nader aan menslike redeneringsvermoë. Hy sê dit laat motors toe om scenario’s te deurdink, veilig in ingewikkelde omgewings te bestuur en bestuursbesluite te verduidelik. ‘n Demonstrasie-video wys ‘n motor wat deur die strate ry met ‘n passasier agter die stuurwiel met sy hande op sy skoot.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….