Nuus 13:00
BULLETIN 6 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking van diplomatieke skynheiligheid oor Venezuela
# OPUL-Plus handhaaf olie-produksie te midde van wêreldwye politieke onrus
# En atletiek: Die Olimpiese kampioen Beatrice Chebet neem vanjaar kraamverlof
# Die DA beskuldig die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking van skynheiligheid en teenstrydigheid. Dit volg nadat die departement die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gevra het vir ‘n dringende vergadering om die inhegtenisneming van Venezuela se president, Nicolás Maduro, en vervolging in Amerika te bespreek. Dit het gister plaasgevind. Die DA-lid, Ryan Smith, sê die departement het nie ‘n soortgelyke standpunt ingeneem oor Rusland se inval in Oekraïne nie:
Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande het intussen op ‘n kort vergadering ooreengekom om olieproduksie onveranderd te hou. Ontleders sê die vergadering het glad nie toenemende politieke krisisse tussen lidlande, insluitend Venezuela, bespreek nie. Die besluit volg nadat oliepryse verlede jaar met meer as 18-persent gedaal het te midde van ‘n wêreldwye oor-aanbod. Ontleders sê markte word tans meer aangevuur deur geopolitieke onsekerheid as vraag en aanbod. Die groep fokus op bestendigheid, met produksieverhogings wat tot Maart gestaak word. Die volgende OPUL-Plus-vergadering is vir volgende maand geskeduleer.
# Die SAKP gaan Saterdag deelneem aan die ANC se 8 Januarie-viering op die Moruleng-stadion in Saulspoort, Noordwes, ondanks verhoogde spanning tussen die alliansievennote. Die geleentheid herdenk die ANC se stigtingsdag in 1912 en sal politieke programme en ondernemings vir die komende jaar uiteensit, insluitend die plaaslike regeringsverkiesing. Die stap volg te midde van ‘n skeuring oor die SAKP se onafhanklike deelname aan die verkiesing. Die woordvoerder, Mbulelo Mandlana, sê die party bly verbind tot betrokkenheid, selfs al waarsku ontleders spanning kan die saamtrek oorskadu.
# Atletiek: Die dubbele Olimpiese gouemedaljewenner Beatrice Chebet van Kenia sal nie vanjaar aan byeenkomste deelneem nie. Haar agent het aankondig dat sy kraamverlof neem. Chebet het die vyf- sowel as die tienduisend-meter gewen op die Spele in Parys in 2024 en is ook die wêreldrekordhouer in albei items, en het albei gewen op die wêreldkampioenskap in Tokio in September. Sy sal egter geen groot kampioenskap misloop nie, want die volgende wêreldkampioenskap vind eers volgende jaar in China plaas, gevolg deur die Spele in Los Angeles in 2028.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-414-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-457-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die langafstand-swemmer en Guinness-wêreldrekordhouer, Howard Warrington, swem vandag die afstand van 34-kilometer oor Valsbaai in Kaapstad. Hy wil fondse insamel vir die Kaap die Goeie Hoop Dierebeskermingsvereniging se ambisieuse plan om tien-duisend diere te steriliseer. Die DBV se woordvoerder, Belinda Abraham, sê hulle het verlede jaar meer as 23-duisend weggooidiere versorg:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….