Nuus 12:00
BULLETIN 6 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nomvula Mokonyane kritiseer die VF Plus oor sy standpunt rakende Venezuela
# Die SAKP kondig sy bywoning van die ANC se 8 Januarie-saamtrek aan
# En krieket: Head en Smith plaas Australië in beheer teen Engeland
# Die ANC se eerste adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, sê die Vryheidsfront Plus is swak ingelig en jaag eiebelang na. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, het die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se verklaring gekritiseer en veroordeel die Amerikaanse inval in Venezuela. Hy sê dis nie die standpunt van almal in die regering van nasionale eenheid nie. Mokonyane sê dis verbasend dat sekere partye voorspraak maak om demokrasie te ondermyn:
Venezuela se opposisieleier en wenner van die Nobelprys vir Vrede, María Corina Machado, sê intussen die inhegtenisneming van president Nicolás Maduro sal onthou word as die dag waarop geregtigheid met tirannie afgereken het. Maduro word beskuldig van narko-terrorisme, invoer van kokaïen, besit van masjiengewere en vernietigende toestelle, en sameswering om masjiengewere en vernietigende toestelle te besit. Machado het president Donald Trump van Amerika geloof vir Maduro se inhegtenisneming:
# Die SAKP gaan Saterdag deelneem aan die ANC se 8 Januarie-viering op die Moruleng-stadion in Saulspoort, Noordwes, ondanks verhoogde spanning tussen die alliansievennote. Die geleentheid herdenk die ANC se stigtingsdag in 1912 en sal politieke programme en ondernemings vir die komende jaar uiteensit, insluitend die plaaslike regeringsverkiesing. Die stap volg te midde van ‘n skeuring oor die SAKP se onafhanklike deelname aan die verkiesing. Die woordvoerder, Mbulelo Mandlana, sê die party bly verbind tot betrokkenheid, selfs al waarsku ontleders spanning kan die saamtrek oorskadu.
# Die dodetal in die somer-inlywingseisoen in die Oos-Kaap het tot 23 gestyg terwyl sewe tradisionele verpleegkundiges in afsonderlike voorvalle dood is. Die meeste sterftes word toegeskryf aan ontwatering, bloedvergiftiging, selfdood, verdrinking en beserings as gevolg van aanranding. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Williams, sê die regering, in samewerking met gemeenskappe, moet meer doen om onwettige praktyke by inlywingskole te voorkom:
# Krieket: Die Australiërs Travis Head en Steve Smith het met die kolf geskitter toe die gasheer 518 vir sewe bereik het na die derde dag van die vyfde toets om die As in Sydney – ‘n voorsprong van 134 lopies oor Engeland. Head het 163 lopies aangeteken en Smith ‘n onoorwonne 129 – die tweede meeste lopies ooit in die reeks na die Engelse kolwer Jack Hobbs. Engeland is vroeër uitgeboul vir 384 na Joe Root se 160. Australië is nou op koers om die reeks 4-1 te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-358-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-464-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….