Nuus 08:00
BULLETIN 23 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê die land het ‘n unieke rol in die debat oor klimaatsverandering
# RISE Mzansi sê die regering moet dit moontlik maak vir mense om ‘n ordentlike huis te besit
# En, Amerika en Brittanje voer weer lugaanvalle uit op Houthi-teikens in Jemen
# Business Leadership South Africa sê die land se infrastruktuur-behoeftes soos elektrisiteit, water en logistiek is duidelike geleenthede vir globale beleggers om die stryd teen klimaatsverandering te steun. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê in haar weeklikse nuusbrief die vinnige pas waarteen Suid-Afrika projekte vir hernubare energie bou wat deur die privaat sektor gedryf word, is in die wêreld-konteks iets positief. Sy sê die land het ‘n unieke rol in die debat oor klimaatsverandering omdat dit ʼn koolstof-intensiewe ekonomie is. Sy sê dis ʼn geleentheid te midde van ʼn globale konteks wat deur risiko’s belemmer word.
# RISE Mzansi sê Suid-Afrika is so stukkend dit sal baie lank duur om die meeste goed wat nie werk nie, te herstel. Die party het die naweek sy verkiesingsmanifes bekend gestel. Die woordvoerder, Mabina Seabe, sê die regering moet hom daartoe verbind om dit vir so veel as moontlik mense moontlik te maak om ʼn ordentlike huis te besit. Hy sê sommige mense sal staatsbehuising moet kry wat ten volle befonds is, ander sal grond kry om hulle eie huise te bou, en sommige sal hulp nodig hê om met huislening te help, of boumateriaal te kry:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens sukkel om ʼn brand wat gister in Kluitjieskraal naby Wolseley ontstaan het, onder beheer te bring. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê toestande is gisteraand vererger deur sterk wind, digte rook en moeilik begaanbare terrein. Sy sê pogings is verder bemoeilik omdat baie van die berg- en dienspaadjies die afgelope jaar deur swaar reën beskadig is. Dit maak dit moeilik om veral in die donker daarlangs te ry. Sy sê die brand beweeg tans in die rigting van die Voëlvleidam:
# Amerika en die Verenigde Koninkryk het opnuut gesamentlik lugaanvalle uitgevoer op teikens van die Iran-ondersteunde Houthi-groep in Jemen. Gister se aanvalle was gemik op ʼn ondergrondse Houthi-bergplek en persele wat verband hou met die groep se missiel- en lugwaarneming. Die Pentagon sê die jongste aanvalle was suksesvol en het missiele, wapenbergplekke en hommeltuig-stelsels vernietig. Amerika en die Verenigde Koninkryk sê in ʼn gesamentlike verklaring hulle doelwit is om spanning te laat afneem en bestendigheid in die Rooisee te herstel. Hulle voeg egter by hulle sal nie huiwer om lewens en vrye handelsvloei te verdedig nie.
# Rugby: Die Franse Top 14-span, Racing 92, het bevestig hy het ʼn ooreenkoms met Engeland en Saracens se losskakel, Owen Farrell, onderteken. Die tweejaar-kontrak is geldig vanaf die einde van die 2023/2024-seisoen. Die 32-jarige speler neem tans weens sy geestesgesondheid ʼn blaaskans van toetsrugby. Farrell het 112 keer vir Engeland uitgedraf en sy hele loopbaan, sedert hy 17 was, vir Saracens gespeel. Sy besluit om na Frankryk te gaan, beteken hy sal volgens die Rugbyvoetbalunie se huidige regulasies nie vir Engeland kan speel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-14-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-963-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….