Nuus 11:00
BULLETIN 6 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika sê invalle teen soewereine state lei tot onbestendigheid
# Venezuela se opposisieleier sê geregtigheid het tirannie oorwin met Maduro se gevangeneming
# En tennis: Djokovic se seisoen begin op die Australiese Ope nadat hy aan die Adelaide-internasionaal onttrek het
# Suid-Afrika sê die situasie in Venezuela moet sonder inmenging van buite en slegs op vreedsame maniere soos dialoog, onderhandeling en respek vir die wil van landsburgers opgelos word. President Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores, is die naweek deur Amerikaanse magte aangekeer. Suid-Afrika se verteenwoordiger by die Verenigde Nasies, Jonathan Passmoor, het op ‘n vergadering van die VN-veiligheidsraad gesê militêre invalle teen soewereine state veroorsaak slegs onbestendigheid en vererger die krisis:
Venezuela se opposisieleier en wenner van die Nobelprys vir Vrede, María Corina Machado, sê intussen Maduro se inhegtenisneming sal onthou word as die dag waarop geregtigheid met tirannie afgereken het. Maduro word beskuldig van narko-terrorisme, invoer van kokaïen, besit van masjiengewere en vernietigende toestelle, en sameswering om masjiengewere en vernietigende toestelle te besit. Machado het president Donald Trump van Amerika geloof vir Maduro se inhegtenisneming:
# Die Energiereguleerder, Nersa, het die kommentaartydperk vir sy raadplegings-dokument oor reëls vir handel in elektrisiteit verleng. Belanghebbendes het nou tot die einde van hierdie maand om hul terugvoer in te dien. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, moedig alle partye aan om hul menings in te dien om die toekoms van elektrisiteitshandel in Suid-Afrika te help vorm.
# Die DA sê ouers in Gauteng wag steeds vir die plasing van meer as vyf-duisend graad een- en graad agt-leerders, met die nuwe skooljaar wat volgende week begin. Die party vra die provinsiale Onderwysdepartement om duidelike inligting bekend te maak oor ongeplaasde leerders, laat aansoeke en die plasingsproses. Sergio Isa dos Santos van die DA sê die vertragings veroorsaak finansiële, emosionele en logistieke probleme vir gesinne.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Novak Djokovic, het aan volgende week se Adelaide-internasionaal onttrek en sê hy is fisies nog nie gereed om deel te neem nie. Die 38-jarige Serwiër wou die geleentheid gebruik as voorbereiding vir die Australiese Ope op Melbourne Park. Djokovic, wat sy speeltye die afgelope jare aangepas het om fiks te wees vir die Grand Slam-toernooie, sê hy fokus nou op voorbereiding vir die Australiese Ope waar hy al ʼn rekord tien keer met die trofee weggestap het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-625-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-465-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….