Nuus 15:00
BULLETIN 5 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola vra ‘n opbouende VN Veiligheidsraadsvergadering oor Venezuela
# Sokker: United dank Ruben Amorim af ná slegs 14 maande
# En koning Charles bring hulde aan die Auschwitz-oorlewende Eva Schloss wat in die ouderdom van 96 sterf
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika verwag vandag ‘n opbouende vergadering van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad na Amerika se gevangeneming van Venezuela se president, Nicolás Maduro, en sy vrou, Cilia Flores. Hulle word aangehou in die Metropolitaanse aanhoudingsentrum in New York en sal na verwagting vandag in die hof veskyn. Lamola sê die stap is onwettig, en Amerika bly onvoorspelbaar:
Intussen sê die Deense eerste minister, Mette Frederiksen, Amerika het geen reg om enige van die drie lande in die Deense koninkryk te annekseer nie. President Donald Trump het herhaaldelik die moontlikheid geopper dat Groenland deur Amerika geannekseer word weens sy strategiese ligging en minerale rykdom. ‘n Meningspeiling verlede jaar het getoon dat die oorgrote meerderheid van Groenland se 57-duisend inwoners onafhanklikheid van Denemarke wil hê, maar geen begeerte het om deel van Amerika te word nie. Frederiksen sê Groenland word gedek deur NAVO se veiligheidswaarborg.
Terug in Suid-Afrika:
# Die Grensbestuursowerheid het twee bemiddelaars in hegtenis geneem vir hulp met onwettige grensoorgange tussen Zimbabwe en Suid-Afrika. Assistentkommissaris, Nkhuliseni Luvhengo, sê 99 mense is die afgelope 24-uur op die Beitbrug-grenspos in Musina, Limpopo, in hegtenis geneem. Hy skryf die opsporing van ongedokumenteerde reisigers en smokkelaars wat gevaarlike goedere, insluitend diesel, smokkel, toe aan hommeltuigtegnologie. Luvhengo sê die twee sal na verwagting binnekort in die hof verskyn:
# Sokker: Ruben Amorim is ná slegs 14 maande afgedank as hoofafrigter van die Engelse span Manchester United. Gister se gelykopuitslag van 1-elk in ‘n Premierliga-kragmeting met Leeds beteken die klub kon slegs een van sy laaste vyf wedstryde wen. Die besluit volg op berigte van toenemende spanning tussen die Portugese afrigter en United se magstruktuur oor Januarie se oordrag-gleuf, en die taktiese benadering. Darren Fletcher is as tussentydse afrigter aangestel en neem oor voor Woensdag se wedstryd teen Burnley.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-957-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-429-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Koning Charles van Brittanje het hulde betoon aan Anne Frank se stiefsuster en oorlewende van die Joodse volksmoord, Eva Schloss, wat op 96 oorlede is. Sy was medestigter en erepresident van die Anne Frank-trust. Schloss en haar gesin is in die 1940’s uit hul huis in Oostenryk verdryf en het in Nederland weggekruip voor hulle aangekeer en na die berugte Auschwitz-konsentrasiekamp gestuur is. Charles sê sy het ondanks die erge gruwels wat sy verduur het, haar lewe toegewy aan die oorbrugging van haat en vooroordeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….