Nuus 14:00
BULLETIN 5 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE waarsku Suid-Afrika te midde van Amerikaanse buitelandse druk
# Kommer oor die toename in tienerswangerskappe
# En sokker: Bafana Bafana se kaptein is teleurgesteld oor hulle vroeë vertrek uit AFCON
# COPE veroordeel die optrede van die Amerikaanse president, Donald Trump, teen Venezuela en noem dit ‘n bedreiging vir soewereiniteit en wêreldvrede. Die waarnemende hoofsekretaris, Eric Mohlapamaswi, kritiseer die burgerlike ongevalle en die inhegtenisneming van president Nicolás Maduro. COPE vra die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad om onmiddellik in te gryp en Suid-Afrika om onafhanklike ekonomiese en diplomatieke strategieë te volg terwyl hulle Amerikaanse druk weerstaan en nasionale belange beskerm.
Intussen sê die vakbond Nehawu Amerika se militêre aanval teen ‘n demokraties-verkose regering in Venezuela is volgens hom ʼn bewys van die Amerikaanse regering se skynheiligheid. Die Amerikaanse Weermag het Maduro en sy vrou die naweek in hegtenis geneem en aangekla van dwelmhandel en wapen-verwante oortredings. Nehawu se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, sê hulle ondersteun Venezuela in sy strewe na nasionale soewereiniteit en selfregering:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is bekommerd nadat meer as 160 tienermeisies op Nuwejaarsdag geboorte geskenk het, wat die aangetekende getal in 2025 verdubbel het. Altesaam een-duisend-669 babas is in openbare gesondheidsgeriewe gebore. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê die syfers beklemtoon ‘n dringende behoefte aan die versterking van pogings om maatskaplike uitdagings in gemeenskappe aan te pak:
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê hy is teleurgesteld omdat hulle nie hul doelwit bereik het in die Afrikabekertoernooi nie. Suid-Afrika het gister in Marokko 2-1 teen die vyfmalige kampioen, Kameroen, verloor in die ronde van 16. Williams sê hulle het nie hul bes gedoen nie, en hulle moet dit regstel met die Wêreldbekertoernooi wat voorlê:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-860-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-432-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het hewige donderstorm-waarskuwings vir vyf provinsies uitgereik, met swaar reën, sterk wind en oorstromings. Mpumalanga se plato-rand en die noorde van Limpopo het Vlak 4-waarskuwings ontvang, terwyl Vlak 2-waarskuwings uitgereik is vir die sentrale en oostelike dele van Limpopo, KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Noordwes en ander dele van Mpumalanga. ‘n Uiters hoë brandgevaar word vir Kai Garib in die Noord-Kaap voorspel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….